Skip to main content

Psalm 64

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie kort Psalm word nie aan ’n spesifieke tyd in Dawid se lewe gekoppel nie, hoewel ’n mens kan agterkom dat sy gebed teen die agtergrond van die optrede van kwaadwilliges teen onskuldiges geskryf word. Die Psalm kan gemaklik in twee verdeel word: 1) Bewaar my van die komplotte van kwaadwilliges – vers 2-7. Let op hoe die booswigte as meesters met die woord geteken word – skerp tonge vir swaarde, giftige woorde vir pyle, beplan skelmstreke, smee volmaakte komplotte. Maar, hulle eie woorde word as strikke gebruik om hulle tot ’n val te bring (vers 8). Die bedreiging van die vyande word as “uit die bloute” geteken (vers 5), dieselfde woord wat in die tweede deel van die Psalm vertaal word met “meteens” en hulle is daarmee heen. Net so skielik soos die aanval gebeur op die onskuldige, só skielik laat God toe dat hulle eie tonge hulle tot ’n val bring. Dit gee groot versekering vir gelowiges wat onskuldig ly. Vers 7 is ’n diepsinnige refleksie oor die boosheid van die mens – dit kom van diep van binne af. 2) Die regverdige verbly hom in die Here wat kwaadwilliges tot ’n val bring – vers 8-11. God se hantering van sulke kwaadwilliges geniet ’n breë instemming – knik met voldoening die kop (vers 9). Dit word die tipe stories wat vertel word om God se dade te verheerlik, veral omdat dit insig gee in hoe God optree (vers 10). Daarom kan die regverdige hom in die Here verbly en sy toevlug by Hom soek, want Hy het raad met die vyande. Opregtes kan Hom daarvoor prys.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Psalm van Dawid. O God, luister tog na my klag. Beskerm my teen die dreiging van my vyande. Beskut my teen sameswerings van kwaadwillige mense, teen die kwaadstokery van hulle wat onreg doen. Hulle wat hulle tong skerp maak soos swaarde, soos pyle met bitter woorde skiet, om uit hinderlae op die onskuldige te skiet, om onverwags op hom te skiet sonder om bang te wees. Hulle spoor mekaar aan tot bose dade; in die geheim beplan hulle lokvalle. Hulle vra: “Wie sal dit ooit raaksien?” Hulle beplan misdaad, en sê: “Ons het ’n volmaakte plan!” Die mens se gedagtes en bedoelings is inderdaad baie duister. Maar God tref hulle met ’n pyl, en skielik is hulle gewond. Hulle eie woorde laat hulle struikel. Elkeen wat dit sien, skud die kop. Dan sal almal, vervul met ontsag, getuig oor die dade van God en iets van sy werke verstaan. Die regverdiges sal bly wees in die Here, en skuiling soek by Hom. Al die opregtes van hart sal Hom prys.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm beklemtoon die listigheid en vervalsing van verraderlike teenstanders, wat hulle woorde kamoefleer, omdat hulle saak skandelik is en hul taktiek onverdedigbaar. Wat veral interessant is, is dat Dawid agterkom dat God sulke mense met “hulle eie tonge” tot ’n val bring. Die “giftige woorde vir pyle” wat hulle uit hinderlae vir hom bedoel, word getroef met die pyl van God, die waarheid. Dit is deur God se toedoen dat bose mense deur hulle eie boosheid gevang word. Ironies genoeg deur hulle eie bose planne teen hulle te gebruik. Gebruik die Psalm om soos Dawid te vra dat die Here jou sal bewaar van die komplotte van kwaadwilliges sodat alle regverdiges hulle kan verbly in die Here wat kwaadwilliges tot ‘n val bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar