Skip to main content

Psalm 83:1-9

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 83, die laaste Psalm van Asaf, is duidelik bedoel om in ’n situasie van aanvegting gebruik te word om God se optrede teen sy vyande af te smeek. In die eerste deel word God gevra om teen die konstante bedreiging van tien nasies – nie noodwendig almal op dieselfde tyd nie – op te tree, want hulle opstand is ten diepste teen Hom gerig. Hy moet tog nie stilbly en niks doen nie (vers 1-9). In die tweede deel word die gebed uitgebrei en gerugsteun deur herinneringe van hoe God in die verlede teen sewe vyandige leiers uit hierdie volke opgetree het (vers 10-19). Hier is ‘n bietjie inligting oor die tien nasies om te help met die lees en bid van die eerste deel van die Psalm: 1) Edomiete – dit is die naam van die nageslag van Jakob se broer Esau wat sy eersgeboortereg verkoop het aan Jakob en waarvan hulle nageslagte in ’n ewige stryd teen mekaar gewikkel was (Gen. 36:1). Hulle het aan die suid-oostekant van Juda gewoon in die omgewing van die Dooie See omring deur die woestyn. 2) Ismaeliete – nakomelinge van Ismael, die kind wat Abraham by Hagar gehad het en toe deur Saraï weggestuur is die woestyn in, maar deur God versorg is (Gen. 16:1 vv.). Ismael was die stamvader van verskeie noord-Arabiese stamme aan die oostekant van Juda (Gen. 25:12-18). 3) Moabiete – dit was die seun van Lot by sy oudste dogter (Gen. 19:31). Sy nageslag het op die Hoogland oos van die Dooie See gebly. Hulle was nie in guns by die Israeliete of die Here nie, omdat Bileam deur die Moabiete gehuur is om die Israeliete in die woestyn te vervloek (Num. 22-24) en hulle ongasvry opgetree het (Deut. 23:4). Rut was egter ’n Moabiet wat guns in die oë van die Here geniet het. 4) Hagarëers – dit was waarskynlik afstammelinge van Hagar (1 Kron. 5:10 vv.; 27:31). 5) Gebal – dit was ’n stad in Kanaän (Jos. 13:5) waarvan sommige met die bou van die tempel gehelp het (1 Kon. 5:18). Dit kan ook die hawestad Gebal noord van Beirut wees. 6) Ammon – dit was die seun van Lot by sy jongste dogter (Gen. 19:38). Sy nageslag het noord-oos van Juda en die Dooie See gebly. 7) Amalek – dit was ’n kleinseun van Esau (Gen. 36:12) wie se nakomelinge in ’n verwoede oorlog met die Israeliete in die woestyntyd was (Eks. 17). 8) Filistea – dit is die landstreek aan die kus tussen Joppe en Gasa waar die Filistyne gewoon het (Eks. 15). Hulle was in hewige gevegte met die eerste konings van Israel totdat Dawid hulle oorwin het. 9) Tirus – dit was die belangrike handelstad van die Fenisiërs aan die Middellandse See. 10) Assirië – dit was die groot wêreldmoondheid wat die noordelike ryk weggevoer het in ballingskap in 722 v.C.

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. Moenie onverskillig toekyk nie, o God. Moenie stilbly en niks doen nie, o God! Luister na die rumoer van u vyande! U haters het hulle teen U verset. Hulle smee komplotte teen u volk, hulle maak planne teen hulle vir wie U beskerm. “Kom,” sê hulle. “Laat ons hulle as nasie uitwis sodat die naam van Israel nie meer onthou sal word nie.” Hulle het eenparig saamgespan, en ’n verdrag teen U gesluit: Dit is die Edomiete en Ismaeliete, Moabiete en Hagareërs, Gebal, Ammon en Amalek, Filistea en die inwoners van Tirus. Selfs Assirië het by hulle aangesluit as bondgenote van die nasate van Lot. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat die teenstanders se vyandskap eers as gemik op God self uitgespel word, en dat daar dan eers oor die bedreiging vir die volk gepraat word, voordat die teenstand weereens as ’n verbond teen God self  geteken word.  Die verset teen God self is van ’n belangriker orde as die verset teen die volk, as motivering om die Here tot optrede te beweeg. Die Psalm help ons ook verstaan hoe belangrik gebed is. Die Psalm vra eenvoudig dat God sal optree soos Hy dit in die verlede al in die lewe van die volk gedoen het, veral in die oorlog teen die Kanaäniete (Rigt. 4-5) en die Midianiete (Rigt. 6-8). Dit is ook insiggewend dat die Here se optrede in beide oorloë die deurslaggewende faktor was: deur die slim keuse van die vleiland as terrein in die oorlog teen die Kanaäniete waar die swaar ysterstrydwaens van Jabin oneffektief was, en deur ’n verrassingsaanval in die nag teen die Midianiete wat grootskaalse verwarring geskep het. Gebed en gehoorsaamheid aan wat die Here openbaar (Gideon moes net met 300 man veg), is en bly die belangrikste wapens in ons geestelike arsenaal. Die vraag vandag is dus eerder aan onsself gerig: Het ons nie stil geraak nie? Moet dié Psalm nie ons woorde vir vandag word om te gebruik in gevalle waar God se naam in diskrediet gebring word en sy mense verguis word in die wêreld nie? Miskien is dit nie die Here wat so stil is nie, maar ons.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.