Skip to main content

Psalm 75

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Waar Psalm 73 gefokus het op die versoeking van ’n enkele gelowige om die goddeloses hul voorspoed te beny totdat sy hart tot rus gebring is toe hy oor die uitkoms van hulle lewe nagedink het, só fokus Psalm 75 op die versoeking van die gemeenskap van gelowiges om dieselfde te doen. Let op hoe Asaf die geloofsgemeenskap herinner aan God se teenwoordigheid by ons en die wonderwerke waarvan mense vertel. Hy herinner die geloofsgemeenskap ook aan twee van God se beloftes: dat Hy regverdig sal oordeel as die tyd wat HY bepaal het, aanbreek en, dat Hy orde sal bring in die chaos wat gemeenskappe op aarde kan tref (moontlik word daar ook aan natuurrampe gedink), uitgedruk met die metafoor dat Hy die aarde sal bevestig op sy pilare. Onthou dit is ’n metafoor vir die stabiliteit van die aarde, nie ’n fisiese beskrywing van hoe die aarde gemaak is nie! Saam met die belofte kom egter ook die waarskuwing vir dié wat verwaand is en goddeloos lewe en hulle eie beuel blaas. Sulke mense moet veral hulleself nie verhef teenoor die hemel wat God se woonplek is nie, want Hy lewer uiteindelik die beslissende oordeel oor wie verhef word en wie verneder word. Om die waarheid te sê, God se oordeel lê nie net in die vernedering van dié wat hulleself verhef nie, maar in die onnoembare leed wat hulle kan tref in die oordeelsbeker wat hulle sal moet drink. Daarteenoor sal Hy die regverdiges verhef en hulle krag vermeerder.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Moenie dit vernietig nie”. ’n Asafpsalm. ’n Lied. Ons dank U, o God! Ons dank U, want u Naam is by ons. U magtige dade maak dit bekend. “Op die tyd wat Ek bepaal het, sal Ek met regverdigheid oordeel. Die aarde en sy inwoners bewe, tog vestig Ek hom stewig. Sela “Die hoogmoediges het Ek gewaarsku: ‘Hou op met julle grootpratery!’ en vir die goddeloses: ‘Moenie julleself verhef nie! Moenie jou teen die hemel verhef, of aanmatigend praat nie.’” Want uit die ooste of weste, of selfs uit die woestyn, kom daar geen verheffing nie. Maar God is die regter wat verneder of verhef. In sy hand hou die Here die beker, gevul met bruisende wyn en kruie. Hy skink daaruit. Die goddeloses van die aarde sal selfs die afsaksels moet drink. Maar ek sal altyd getuig en sing tot eer van die God van Jakob. “Al die krag van die goddelose sal Ek afbreek; maar die krag van die regverdige sal vermeerder.”” NLV

Betekenis en boodskap

Dit is hierdie tipe beloftes wat gereeld deur die gemeenskap van gelowiges omarm moet word en hulle tot gebed moet aanmoedig vir plekke en gemeenskappe wat aan onreg en onrus blootgestel word. Ons kan onsself gerusgestel dat dit God is wat verneder en dat dit God is wat verhef in hierdie lewe (Psalm 74 het dit ook implisiet op die tafel gesit). Daarvoor kan ’n mens God vertrou. Dat God in beheer is van die uitkomste van hierdie lewe is ’n ongelooflike belangrike insig, want dit leer ons om in ons reaksies op wat om ons aangaan te alle tye rekening te hou met God se werk.  Die oënskynlike sukses en mislukking van mense is te wyte aan God se werk.  Dit is ook waar van jou eie suksesse en mislukkings.  Jy misken dít tot jou eie skade. Daarmee moet ons mekaar bemoedig. Ek hou vandag vas aan die gedagte in vers 8 en 11: “Maar God is die regter wat verneder of verhef… Al die krag van die goddelose sal Ek afbreek; maar die krag van die regverdige sal vermeerder.” Hy is billik en regverdig.  Dit is dié God wat die moeite werd is om te vertrou al gebeur wat ook al met jou in die lewe.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…