Skip to main content

Psalm 75

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Waar Psalm 73 gefokus het op die versoeking van ’n enkele gelowige om die goddeloses hul voorspoed te beny totdat sy hart tot rus gebring is toe hy oor die uitkoms van hulle lewe nagedink het, só fokus Psalm 75 op die versoeking van die gemeenskap van gelowiges om dieselfde te doen. Let op hoe Asaf die geloofsgemeenskap herinner aan God se teenwoordigheid by ons en die wonderwerke waarvan mense vertel. Hy herinner die geloofsgemeenskap ook aan twee van God se beloftes: dat Hy regverdig sal oordeel as die tyd wat HY bepaal het, aanbreek en, dat Hy orde sal bring in die chaos wat gemeenskappe op aarde kan tref (moontlik word daar ook aan natuurrampe gedink), uitgedruk met die metafoor dat Hy die aarde sal bevestig op sy pilare. Onthou dit is ’n metafoor vir die stabiliteit van die aarde, nie ’n fisiese beskrywing van hoe die aarde gemaak is nie! Saam met die belofte kom egter ook die waarskuwing vir dié wat verwaand is en goddeloos lewe en hulle eie beuel blaas. Sulke mense moet veral hulleself nie verhef teenoor die hemel wat God se woonplek is nie, want Hy lewer uiteindelik die beslissende oordeel oor wie verhef word en wie verneder word. Om die waarheid te sê, God se oordeel lê nie net in die vernedering van dié wat hulleself verhef nie, maar in die onnoembare leed wat hulle kan tref in die oordeelsbeker wat hulle sal moet drink. Daarteenoor sal Hy die regverdiges verhef en hulle krag vermeerder.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Moenie dit vernietig nie”. ’n Asafpsalm. ’n Lied. Ons dank U, o God! Ons dank U, want u Naam is by ons. U magtige dade maak dit bekend. “Op die tyd wat Ek bepaal het, sal Ek met regverdigheid oordeel. Die aarde en sy inwoners bewe, tog vestig Ek hom stewig. Sela “Die hoogmoediges het Ek gewaarsku: ‘Hou op met julle grootpratery!’ en vir die goddeloses: ‘Moenie julleself verhef nie! Moenie jou teen die hemel verhef, of aanmatigend praat nie.’” Want uit die ooste of weste, of selfs uit die woestyn, kom daar geen verheffing nie. Maar God is die regter wat verneder of verhef. In sy hand hou die Here die beker, gevul met bruisende wyn en kruie. Hy skink daaruit. Die goddeloses van die aarde sal selfs die afsaksels moet drink. Maar ek sal altyd getuig en sing tot eer van die God van Jakob. “Al die krag van die goddelose sal Ek afbreek; maar die krag van die regverdige sal vermeerder.”” NLV

Betekenis en boodskap

Dit is hierdie tipe beloftes wat gereeld deur die gemeenskap van gelowiges omarm moet word en hulle tot gebed moet aanmoedig vir plekke en gemeenskappe wat aan onreg en onrus blootgestel word. Ons kan onsself gerusgestel dat dit God is wat verneder en dat dit God is wat verhef in hierdie lewe (Psalm 74 het dit ook implisiet op die tafel gesit). Daarvoor kan ’n mens God vertrou. Dat God in beheer is van die uitkomste van hierdie lewe is ’n ongelooflike belangrike insig, want dit leer ons om in ons reaksies op wat om ons aangaan te alle tye rekening te hou met God se werk.  Die oënskynlike sukses en mislukking van mense is te wyte aan God se werk.  Dit is ook waar van jou eie suksesse en mislukkings.  Jy misken dít tot jou eie skade. Daarmee moet ons mekaar bemoedig. Ek hou vandag vas aan die gedagte in vers 8 en 11: “Maar God is die regter wat verneder of verhef… Al die krag van die goddelose sal Ek afbreek; maar die krag van die regverdige sal vermeerder.” Hy is billik en regverdig.  Dit is dié God wat die moeite werd is om te vertrou al gebeur wat ook al met jou in die lewe.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar