Skip to main content

Psalm 6

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm is uiters geskik as ’n gebed in siekte. Die woord “agtste” word in die opskrif met basstem vertaal. Dit kan ook met oktaaf vertaal word (1 Kron. 15:21) met die implikasie dat die Psalm in ‘n laer (dieper) stem gesing moet word. Dit dui dus aan vir watter atmosfeer die Psalm bedoel is, vir ’n donkerder tyd, ’n tyd van siekte, in ’n mens se lewe. Dawid sê nie hier aan watter siekte hy gely het nie, hoewel dit iets is wat sy liggaam (letterlik sy bene of beendere/skelet) uitgeteer het en hom (letterlik sy siel) gedaan gemaak het – d.w.s. fisies en/of psigies. Dit maak dit eintlik moontlik om die Psalm te gebruik vir enige behoefte aan genesing. Die wending vir Dawid kom in vers 9, miskien met een of ander begeleiding van die koorleier, of tussenkoms van ‘n priester in die tempel (dink aan Eli wat op Hanna se gebed in die tabernakel reageer – 1 Sam. 1:17) waarin God se ingrype geloof word. Anders kan dit net beteken dat sy gebed van wanhoop na vertroue beweeg het, en hy innerlik die bevestiging van God se antwoord gekry het.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snarespel, met basstem. ’n Dawidspsalm. Here, straf my nie in u toorn, kasty my tog nie in u woede nie. Wees my genadig, Here, want ek is swak. Maak my gesond, Here, want my liggaam is vol pyne. My hele wese is angsbevange. Hoe lank nog, Here? Kom terug, Here, en red my. Genees my op grond van u liefde. Want wie onthou U in die graf? Wie kan U loof in die doderyk? Ek is vermoeid van verdriet. Snags is my bed deurweek, is my kussing nat van trane. My oë is dof van droefheid, dis verswak weens al my vyande. Gaan weg, al julle kwaaddoeners, want die Here het na my hulpgeroep geluister. Die Here het my pleidooi gehoor; die Here sal my gebed beantwoord. Al my vyande sal beskaamd en baie verslae wees; in ’n oogwink sal hulle beskaamd wees en omdraai.” NLV

Boodskap en betekenis

’n Mens kan op twee maniere kyk na die gebed dat God nie toornig of woedend teenoor hom sal optree nie. Omdat hy nie ’n sondebelydenis doen, kan dit wees dat hy hom onskuldig ag – soos Job – en daarom vra dat die lyding van hom weggeneem sal word. Hy dink nie dat hy dit verdien nie. Of miskien is hy juis versigtig om God se voorsiening in twyfel te trek deur vir genesing te vra, en vra daarom dat God nie vir hom kwaad sal word, net omdat hy vir iets anders vra – genesing – as wat vir hom uitgedeel is – siekte. As die laaste interpretasie korrek is, beteken dit dat die Psalm sê dat genesing nie vanselfsprekend is nie, maar iets is wat God uit genade gee. ’n Mens mag dus vir genesing vra, en God kan genesing gee, maar jy kan genesing nie afdwing nie. God gee… en God neem – soos Job so diepsinnig bely het. ‘n Mens hoor ook Jesus se roepstem na God en sy dissipels in Getsemane wat verband hou met hierdie gebed: “Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe. Bly julle hier, en waak saam met My.”” (Matt 26:38 NLV) Hy het gevra dat die beker van lyding by Hom verbygaan, maar moes egter God gehoorsaam deur die dood te verduur ter wille van ons voordat Hy die wonder van die opstanding kon beleef.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda