Skip to main content

Psalm 44:10-27

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Saam, onder begeleiding van die Koragiete, rou die geloofsgemeenskap in die res van die Psalm oor die skande van hulle huidige nood, veral omdat hulle die ervaring het dat hulle deur God verstoot is, en bely dat dit ten diepste die rede is waarom hulle die onderspit gedelf het in die oorlog teen hulle vyande. Wat die ontsetting van hulle ervaring so onverstaanbaar maak, is dat dit gebeur het terwyl hulle God nie vergeet het nie, nie aan die verbond ontrou was nie, nie afvallig geword het nie en nie van sy pad afgewyk het nie.  Hiermee word die worsteling van ‘n Job geëggo in dié ervaring en lyding van die geloofsgemeenskap. Desnieteenstaande verenig hulle steeds in ’n verdere smeekgebed om hulp en pleit by die Here, die Verbondsgod, om hulle “nie vir altyd” te verstoot nie en nie sy rug op hulle te draai en Hom nie aan hulle ellende te steur nie  Uitkoms is immers net moontlik van God self, selfs al kan hulle die ellende waarin hulle tans verkeer nie verklaar nie. Om die waarheid te sê, die verklaring vir hulle ellende is vir hulle minder belangrik as die verlossing daarvan en daarvoor bid hulle eendragtig saam.

Bid die Psalm

“Maar nou het U ons weggestoot in skande. U trek nie saam met ons leërs na die geveg toe nie. U laat ons vlug voor ons vyande; dié wat ons haat, plunder na hartelus. U lewer ons uit soos slagskape; U het ons onder die nasies verstrooi. U volk het U verkoop vir niks en self het U nie daarby gebaat nie. U het ons ’n veragting gemaak by die bure, ’n bespotting en beskimping vir almal om ons. U het ons ’n spotnaam onder die nasies gemaak, almal skud maar net die kop daaroor. My skande is dag na dag voor my; oor my gesig is skaamte geskryf. Al wat ek hoor, is die lasteraar en die kwaadspreker. Al wat ek sien, is die vyand en die wreker. Dit het gebeur hoewel ons U nie vergeet het nie, en nie aan u verbond ontrou was nie. Ons het U nie verlaat nie, en nie van u paaie afgedwaal nie. Maar in die woestyn het U ons verpletter; donkerte en dood het U oor ons gebring. As ons opgehou het om ons God te dien of by vreemde gode hulp gaan vra het, sou God dit nie weet nie? Hy ken immers die geheime van die hart. Om u ontwil word ons elke dag doodgemaak, word ons behandel soos skape wat geslag moet word. Word wakker! Waarom slaap U, Here? Staan op! Moenie ons vir altyd verstoot nie! Hoekom kyk U anderpad? Hoekom kyk U verby ons ellende en verdrukking? Ons lê verneder in die stof, met die gesig in die grond. Staan op! Kom en help ons! Red ons ter wille van u troue liefde.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is interessant hoe God se universele naam (Elôhîm) deurgaans gebruik word in die Psalm om daarmee sy soewereine mag oor alles en almal wat leef en beef te bevestig, maar dat die dieptepunt van die gebed om hulp in vers 24-27 aan die Here (Jahwe) gerig word, die persoonsnaam van God.  Daarmee word aan die een kant die Here (Jahwe) se persoonlike verbintenis aan die volk van Jakob uitgedruk, maar aan die ander kant ook die geloofsgemeenskap se verbintenis aan God (Elôhîm) bevestig. Die Psalm is werklik ’n diep besinning oor God se misterieuse weë. Tog nooi dit ons steeds uit om te volhard in die vashou aan God ten spyte van die onbegrip vir sy oënskynlike afwesigheid. Geen wonder nie dat Paulus hierdie Psalm gebruik om God se betrokkenheid in lyding in Romeine 8 uit te druk.  Hy vind in hierdie Psalm die bevestiging dat niks ons van die liefde van God kan skei nie, selfs al gebeur dit dat ons ter wille van Christus deur die dood bedreig word en ons soos slagskape behandel word.  In Romeine 8:36 haal Paulus Psalm 44:23 aan om sy punt te staaf.  Lees dit gerus hier in sy volle konteks: ”35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.’  37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (1983-vertaling) Oorwinning lê nie in die afwesigheid van lyding nie, en bestaan nie net in die ervarings van voorspoed en sukses nie. Oorwinning lê in die ervaring van die liefde van Christus Jesus, ons Here. Niks kan ons daarvan skei nie, en dít is die tipe oorwinning waarvan Paulus praat. Met hierdie perspektief van Paulus op die Psalm kan ek met meer oorgawe my rus vind in die gedagte dat ons in alles oorwinnaars is, al bly sommige goed ‘n misterie en onverklaarbaar. En ek kan met meer oorgawe bely dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet (Rom. 8:26).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar