Skip to main content

Psalm 119:105-112

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die eerste vers van die veertiende deel van hierdie Psalm is seker een van die meer bekende verse in die hele Psalm 119: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” (Ps. 119:105). Omdat God se woord vir hom insig bring en rigting gee in die lewe werp hy daarom alles in die stryd om daaraan gehoorsaam te wees. Hy bevestig dit met ‘n eed en hou hom daarby. Selfs al kry hy swaar in sy gehoorsaamheid aan die woord van God, kom hy dit na, terwyl hy hom ook verlaat op God se belofte en Hom smeek: “maak my lewend volgens u woord!” (Ps. 119:107). In sy smeekgebed om uitkoms, bly hy egter steeds getrou om die Here te loof: “Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees.” (Ps. 119:108). Vers 109 is ‘n besondere getuienis van sy onwrikbare keuse om gehoorsaam te wees. Dit lui letterlik: “My siel/lewe (is) in my hande/handpalms voortdurend/gedurig, en/maar u wet vergeet ek nie.” Die NLV vertaal: “My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie.”  Die NIV vertaal dit met: “Though I constantly take my life in my hands, I will not forget your law.” Die vers dra dus die betekenis dat die Psalmis op berekende wyse aan God se wet getrou bly, ten spyte van die feit dat dit hom in gevaar bring. Dié gevaar is veral van die goddelose wat vir hom strikke stel, maar hulle versteur nie die verbintenis aan God wat hy gemaak het nie. Die Here se openbaring is sy “blywende erfporsie” waarop hy altyd fokus om dit sy eie te maak. Dit is die vreugde van sy hart. Hy sal altyd daaraan getrou bly: “vir altyd, tot die einde toe.

Bid die Psalm

“U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, Here. Vernuwe my lewe volgens u woord. Here, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe.” NLV

Boodskap en betekenis

Ek vertel graag vandag die verhaal van Dmitri se getrouheid ten spyte van gevaar en ek deel dit omdat dit só goed pas by hierdie deel van Psalm 119. Dit is ‘n roerende verhaal soos vertel deur Nik Ripken. Dmitri het grootgeword in die tyd toe die kommunisme dit baie moeilik gemaak het vir gelowiges en veral kerke om in Rusland te oorleef. Sy pa het hom nog kerk toe geneem en geleer om die Bybel te lees en die liedere te sing van hulle kerk, maar dit het toenemend moeiliker geraak om kerk toe te gaan, omdat die regering die kerke toegemaak het. Later was dit vir hom en sy gesin, vrou en twee kinders, net moontlik om een of twee keer ‘n jaar kerk toe te gaan. Hy was ‘n fabriekswerker en die naaste kerk was later drie dagreise ver.

Hy het egter besluit om die Bybelverhale vir sy kinders te lees en só die Bybelse boodskap lewend vir hulle as gesin te hou. Dit was groot pret en die seuns het lustig deelgeneem om ook self die verhale te vertel, en die liedere wat hulle pa hulle geleer het, te sing. Gou het van die bure besluit om saam te kom luister, sodat hulle later ‘n groep van so 25 was wat een keer ‘n week saamgelees en gesing het. Die owerhede het bewus geraak daarvan, hom gewaarsku, en uiteindelik het hy sy werk verloor toe die groep so 50 sterk was. Maar, hulle het voortgegaan al het ook sy vrou haar werk as onderwyser verloor en die kinders uit die skool geskop is. Dmitri praat daarvan as “klein dingetjies” wat met hulle gebeur het.

Een aand was daar al 75 mense ingedruk in die huisie, skouer teen skouer, wang teen wang, om waar Dmitri op ‘n stoel gesit het na die Bybelverhale te luister. Die polisie het ingebars en hom baie hardhandig beveel om op te hou, anders sal dit hom suur bekom. ‘n Klein oumatjie het nie op haar laat wag nie, en soos ‘n OT profeet van ouds haar vinger vir die polisieman geswaai en gewaarsku dat hy nou aan die gesalfde van die Here raak en dit nie sal oorleef nie. Twee dae later is dié polisieman aan ‘n hartaanval dood. Ontsag het die dorpie aangegryp en die volgende geleentheid was daar 150 mense wat kom luister het. Die owerhede het egter ingegryp en hom in ‘n tronk so 1000 km verder vir 17 jaar opgesluit. Daar het Dmitri dit swaar gehad. Hulle het hom gespot en gemartel, om hom tot insig te bring dat daar nie ‘n God is nie, en dat geloof sinneloos is.

Twee geloofsgewoontes het hom egter standvastig gehou in die tronk. In die eerste plek was daar ‘n Lied wat sy pa hom geleer het, ‘n Lied van die hart (HeartSong), wat hy elke oggend op aandag langs sy bed met sy twee hande na die ooste gerig, gesing het, selfs al is hy male sonder tal geslaan en gespot deur die wagte en die 1500 geharde misdadigers in die tronk. In die tweede plek was daar die tekste uit die Bybel wat hy op stukkies papier geskryf het, as hy dit enigsins in die hande kon kry, en dan as offer aan die Here geplak het op ‘n nat pilaar in sy klein tronksel, so hoog soos hy kon bykom, en dan die Here geloof het. Ook dié Bybeltekste is telkens afgeruk en hy is gemartel daaroor en met die dood gedreig.

Een dag het hy ‘n A4 bladsy in die hande gekry en vol geskryf met tekste uit die Bybel, geplak op die pilaar en die Here geloof. Die bewaarders het egter ingestorm, hom ernstig aangerand en gewaarsku dat dit moet end kry. Dit het hulle geïnspireer om die ondenkbare bose ding te doen, om klere van sy vrou te laat haal uit sy huis, ‘n vrou van die straat af in te bring, haar daarmee aan te trek, en hom onder die illusie te laat dat hulle haar nou ook in die tronk het. Hulle het haar oor drie dae gemartel terwyl hy dit kon aanhoor, sonder dat hy geweet het dit is nie sy nie. Na drie dae het hulle haar “lyk” uitgedra terwyl hy dit uit die verte kon sien.

Dmitri was stukkend en het verklaar dat hy sy geloof sal afsweer. Hulle kan die volgende dag vir hom papiere bring dat hy sy geloof kan afsweer, sodat hy na sy kinders kan gaan omsien. Hy was al 17 jaar daar, en dit het vir hom net te veel geword. Dié aand het hy absoluut uitgemergel in sy tronksel gesit, toe daar ‘n wonder gebeur. Sy familie het om die stoel waarop hy gesit het om die Bybelverhale te vertel, gekniel in hulle huis en vir hom gebid. Hulle het net geweet, iets drasties is verkeerd, en Dmitri het gebedsondersteuning nodig. Hoe weet ‘n mens nie, maar Dmitri vertel, hy het skielik in sy moedeloosheid en uitputting hulle stemme hoor bid. Hy het onmiddellik moed geskep, geweet sy vrou is nie dood nie, dat die Here hulle nie versaak het nie, en die volgende oggend geweier om enigiets te teken.

Die bewaarders was op vir Dmitri en het hom uit sy sel gesleep om hom aan die galg buitekant die tronk te gaan ophang. En skielik gebeur die verdere wonder. Soos een man het die ander 1500 gevangenes in die tronk hulle hande na die ooste gelig en Dmitri se lied van die hart begin sing. Vir Dmitri het dit geklink soos ‘n engelekoor. Die wagte het ontsteld hom gelos en gevra: “Maar, wie is jy?” Waarop hy geantwoord het: “Ek is ‘n seun van die Lewende God, en Jesus is sy Naam!” En net ‘n tydjie later is hy vrygelaat en met sy familie herenig. Jy kan hier na ‘n weergawe van Dmitri se hartlied in Russies luister/

Die verhaal illustreer vir ons nie net die barmhartigheid van God wat vir Dmitri staande gehou het in die tronk nie, hom sterk gemaak het om lief te bly vir sy vyande tot die end nie, maar ook die belangrike funksie van geloofsgewoontes – liedere en Bybeltekste. Om die waarheid te sê, soos Nik in ‘n ander konteks skryf, geloofsgewoontes is gemik daarop om hou vir swaarkry dae voor te berei. Jy kan nie iets in swaarkry beoefen wat jy nie daarvoor ingeoefen het nie. Jy kan nie iets in die tronk inneem, wat jy nie vóór die tronk ingeoefen het nie, by wyse van spreke.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.