Skip to main content

Psalm 119:1-8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 119 is ‘n letterkundige juweel. In ‘n verstommende akrostiese kragtoer begin elke opeenvolgende groep van agt verse elke keer met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse konsonante alfabet. Dit gee 22 kleiner eenhede – aangedui met die Hebreeuse konsonante: ALEF, BET, GIMEL ens. soos in talle vertalings – wat elkeen die wonder van God se woord aan sy mense beskrywe en besing. Ons gaan dit daarom ook oor 22 dae lees om reg te laat geskied aan elke eenheid. Hierdie uitnemende Psalm besing die openbaring van God soos vers 1 dit aandui. Daarmee word bedoel alles wat God van Homself aan die mensdom openbaar het. Daarvan getuig die agt woorde wat Psalm 119 gebruik vir God se openbaring wat eintlik as sinonieme vir mekaar optree. Ek gee die NLV se keuses hier weer:

  • gebooie (torâh – Ps. 119:1, 29 – “law”),
  • waarskuwings/voorwaardes (‘edût – Ps. 119:2, 14, 22, 24, 31 – “rules” of “testimonies”).
  • bevele (piqqûdîm – Ps. 119:4, 15, 27 – “precepts”),
  • voorskrifte (huqqîm – Ps. 119:5, 8, 12, 16, 23, 26 – “statutes”),
  • gebooie (mizwôt – Ps. 119:6, 10, 18, 21, 32 – “commandments”),
  • bepalings (mishpâtîm – Ps. 119:7, 13, 30 – “judgments”),
  • woord (dâbâr – Ps. 119:9, 16, 17, 25, 28 – “word”),
  • woord (‘imrâh – Ps. 119:11 – “utterance”).

Hiermee bevestig die Psalmis wat alreeds in Psalm 1 gesê is: God se woord is die sentrum van die lewe, dié ding wat jou nie net soos ‘n boom geplant langs watervore maak en laat gedy nie, maar sorg dat jy die pad (dêrêg – ‘n woord wat ook gereeld in Psalm 119 voorkom) van die regverdiges kan bewandel.

Bid die Psalm

“Geseënd is hulle wat opreg lewe, wat leef volgens die gebooie van die Here. Geseënd is hulle wat sy waarskuwings gehoorsaam, Hom met volle oorgawe dien, nie onreg pleeg nie en op sy paaie wandel. U het ons opdrag gegee om u bevele noukeurig te onderhou. Mag my optrede voortdurend weerspieël dat ek u voorskrifte wil nakom. Dan sal ek nie tot skande kom as ek maar net my oë op al u gebooie hou nie. Wanneer ek u regverdige bepalings bestudeer, wil ek U dank met ’n opregte hart. U voorskrifte sal ek nakom; moet my net nie verlaat nie!” NLV

Boodskap en betekenis

Die eerste gedeelte plaas onomwonde God se hele openbaring op die tafel. God gee nie net sy wet met sy bepalings, bevele, opdragte en voorskrifte nie, die begeleidende kant van sy openbaring nie. Nee, Hy gee ook getuienisse van wat werk vir dié: “wat Hom met hulle hele hart soek.” Hy gee ook regverdige beslissings wat bestudeer kan word, voorbeelde wat inspireer, sodat ‘n mens nie net gemotiveer word om Hom met ‘n opregte hart te loof nie, maar ook geïnspireer word om hulle na te kom … terwyl ‘n mens tog steeds ook bid: “moet my tog nooit in die steek laat nie”! Watter wonderlike manier om dié Psalm te begin. Dit is inderdaad die onfeilbare roete wat lei na geluk: “Hoe gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg.” Dit is juis wanneer ‘n mens doen wat God vir ons almal wys deur sy openbaring dat ons gelukkig kan wees. Soos Jesus veel later sy “wet van die koninkryk” in die Bergrede sou aankondig: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3). Hy spreek ook die duiwel se versoeking in die eerste plek aan met die stellige vertroue op God se Woord: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matt. 4:4 – aangehaal uit Deut. 8:3).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar