Skip to main content

Psalm 128

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm brei uit oor die geluk wat daar lê in ontsag vir en gehoorsaamheid aan die Here. Dit is dié pelgrims: “wat sy paaie volg”, wat waarlik gelukkig is. Die seën hiervan word ervaar in die vrug van jou handewerk, sowel as in die vrug van jou huis. Aan die een kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle handewerk sal geniet. Jy sal nie net gelukkig wees nie, maar dit sal goed gaan met jou in die konteks van jou werk en lewensroeping. Aan die ander kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle huis sal geniet. Hulle sal nie net gelukkig wees in hulle intimiteit in die “binnekamers” van die huis nie – soos dit letterlik hier staan – maar ook die vrug van ‘n kroos van kinders geniet wat die vreugde aan tafel sal vergroot. Die Hebreeuse woord benîm wat hier vir kinders gebruik word, word meer geredelik vir seuns in die OT aangewend, behalwe waar die konteks vereis dat dit op kinders dui, soos dit hier en op ‘n paar ander plekke in die OT die geval is (vgl. Gen. 3:16; 21:7; Eks. 21:5; 22:23). Die pragtige metafoor van die vrugbare wingerdstok word gebruik vir die huweliksverhouding en die metafoor van die olyfboompies vir die kinders om die tafel. Dít is die seën wat die Here gee vir mense wat vir Hom ontsag het en sy paaie volg. Hieraan voeg die Psalmis vir die pelgrims die belofte by dat die Here hulle geestelik, polities en sosiaal sal seën. Die seën uit Sion word geestelik-godsdienstig bedoel. Die seën vir Jerusalem word polities-maatskaplik bedoel. Die seën van die voorreg om jou kinders se kinders te sien, word sosiaal-familiaal bedoel. Dit bly immers een van die grootste voorregte wat daar is om ‘n oupa of ouma te word! Die laaste belofte: “Vrede vir Israel!” sê iets van die wyse waarop al drie hierdie laaste dimensies aan mekaar verbind is. Waar Sion sy rol vervul, Jerusalem veilig is, en die pelgrims in hulle familielewe gelukkig is, dáár kan die hele Israel heelheid en oorvloed geniet. VREDE!

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Geseënd is hulle wat die Here dien, wat wandel op sy weë. Jy sal die vrug van jou arbeid geniet en gelukkig en voorspoedig wees. In jou woning sal jou vrou wees soos ’n vrugbare wingerdstok. Jou seuns sal wees soos jong olyfbome rondom jou tafel. So seën die Here die mens wat Hom dien. Mag die Here jou seën uit Sion sodat jy so lank as wat jy lewe die voorspoed van Jerusalem sal sien, en ook jou kleinkinders sal beleef. Mag daar vir Israel vrede wees.” NLV

Boodskap en betekenis

Vrede! Inderdaad. Daar is ander Psalms wat die donker en uitdagende kante van die lewe belig. Maar hierdie Psalm besing slegs die vreugdevolle kant van gehoorsaamheid en geluk. Geniet dus vandag die belofte en verwagting wat dit in jou lewe skep.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar