Skip to main content

Psalm 72:1-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 72 is een van twee Psalms wat aan Salomo toegeskryf word (vgl. ook Ps. 127).  Dit is ook een van ’n hele aantal Psalms wat fokus op die koning.  Waar een van die ander koningspsalms, Psalm 2, fokus op die verhouding tussen die koning en God, fokus hierdie Psalm meer op die verhouding van die koning met die volk en die nasies.  Die Psalm is dus waarskynlik gebruik by die kroning van ’n koning. Aan die eenkant word God in die Psalm aangeroep om die koning te leer om te regeer soos God wil, sodat die mense God kan dien van geslag tot geslag en daar vrede met die nasies kan wees. Aan die ander kant word die wil van God uitgespel en in praktiese terme voorgebid, waarin veral die handhawing van die reg van verdruktes, armes, swakkes en behoeftiges die prioriteite is. Ons lees die Psalm in twee dele: 1) Leer die koning om te regeer volgens u wil – vers 1-14; 2) Mag die koning lank lewe – vers 15-17 – waarna die Psalm afgesluit word met 3 verse – vers 18-20 – wat ook die tweede Psalmboek afsluit.

Bid die Psalm

“’n Psalm van Salomo. O God, skenk u geregtigheid aan die koning, en u regverdigheid aan die seun van die koning. Hy sal u volk regverdig oordeel en aan armes reg verskaf. Die berge sal voorspoed bring vir die volk, en die heuwels regverdigheid. Hy sal aan die verdruktes reg verskaf, die kinders van behoeftiges red, hulle verdrukkers verpletter. Mag hulle U dien so lank as wat die son skyn, en die maan daar is, geslag na geslag! Mag hy wees soos reën vir plante, soos reënbuie wat die aarde natmaak. Mag regverdiges floreer tydens sy bewind en voorspoed in oorvloed ontvang tot die maan nie meer daar is nie. Mag hy regeer van see tot see, en vanaf die Eufraat tot aan die eindes van die aarde. Mag woestynbewoners voor hom buig, sy vyande voor hom in die stof kniel. Mag die konings van Tarsis en die kuslande vir hom belasting betaal, die konings van Skeba en Seba vir hom geskenke bring. Mag al die konings voor hom buig, en al die nasies hom eer bewys. Ja, die armes wat roep, sal hy verlos, ook die verdrukte sonder helper. Hy het medelye met swakkes en behoeftiges, en red die lewe van behoeftiges. Uit onderdrukking en geweld sal hy hulle red, want hulle lewens is kosbaar vir hom.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe vers 1-4 sentreer rondom die handhawing van die reg vir dié wat dit nie self kan regkry nie.  Dit het ’n enorme effek op mense se Godsbewussyn. Selfs die natuur is bly as reg vir en onder mense geskied.  Vers 5-7 sentreer weer om die  lewe en voorspoed wat ’n regverdige koning vir sy mense bring.  Dit het selfs ’n effek op die internasionale betrekkinge van die volk (vers 8-11).  Let ook op hoe die statuur van die koning juis groei uit sy deernis met swakkes en behoeftiges wat hom nie kan terugbetaal nie, want: “hulle lewens is kosbaar vir hom.” Hierdie dinge wat Salomo hier uitspel is die primêre dinge waarop die koning moet fokus. Hy moet instaan vir dié wat dit nie vir hulleself kan doen nie.  ’n Maatstaf wat ons gerus vandag nog kan aanlê vir leiers, in watter sfeer van die lewe ook al, maar natuurlik ook iets waarvoor ons moet bid en God se aangesig oor moet soek. Dit is daarom ook ’n Psalm wat ’n mens onmiddellik laat dink aan die ideaal van die Messiaanse koning, dié een waarna die OT uitgesien het om dít alles waar te maak.  Die NT prentjie van Jesus pas perfek hierby in, veral as ’n mens sy toespraak in sy tuisdorp onthou, waar Hy die genadejaar van die Here aangekondig het vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes (Luk. 4). Dit is ook die boodskap wat ons met woord en daad in hierdie lewe moet verkondig en alles in ons vermoë doen om ‘n verskil te maak ook in mense se lewens wat dit regtig nodig het.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar