Skip to main content

Psalm 142

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 142 word – soos met Psalm 57 – verbind met ‘n noodsituasie uit Dawid se lewe, albei kere met verwysing na die tyd toe hy vir Saul in die grot ingevlug het. Ons lees in Samuel van twee sulke geleenthede. Psalm 57 verwys waarskynlik na die eerste geleentheid by die Adullamgrot waarvan ons lees in 1 Samuel 22. Psalm 142 verwys waarskynlik na die tweede gebeure in die skuilplekke by En-Gedi waar Dawid in die omgewing van die Klipbokrotse in ‘n grot by ‘n skaapkraal geskuil het, waarvan ons in 1 Samuel 24 vertel word. Dit is die geleentheid waar Dawid ’n stukkie van Saul se mantel afgesny het, en dit Saul tot trane beweeg het. Dawid is baie bewus van die feit dat sy hulp net van die Here af kom. Daarom roep Hy na die Here en pleit om genade. Roerend stort hy sy klag voor die Here uit en maak sy nood aan God bekend. Let op hoe hy staatmaak op die feit dat wanneer sy gees hom begewe en hy dreig om alle moed te verloor, dit juis sy wete is, dat God sy pad ken, en weet wat hy moet deurmaak, wat hom staande hou. Dit is iets wat jy vandag ter harte kan neem. God weet presies waardeur jy gaan in jou lewe, selfs al swik jou knieë op die pad wat jy op die oomblik moet loop. Dus, al is daar op dié pad ‘n strik vir Dawid gespan – hy skuil alreeds vir Saul in die grot, en nou is hy regtig vasgevang deurdat Saul juis dié grot besoek! – en al sien Dawid geen uitkoms nie, want niemand by Saul is hom goedgesind nie, weet hy dat hy die Here om hulp kan vra, want die Here is sy skuilplek. Dit is dus wat ons by Dawid leer. Die grot is uiteindelik van nul en gener waarde as beskerming nie. Dit is net die Here wat sy ware skuilplek is en hom kan beskerm. Let op hoe hy verby die aardse stutpale vasgryp aan die ewige grond van God self: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” Soos Allen hieroor skrywe van mense wat dit ter harte begin neem: “The land became transparent, and through it they could see with the eyes of faith the divine ground on which they stood and thrived.” Dawid se opmerking: “As ek na regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie.” ( vers 5 in die 2020-vertaling – “Ek soek hulp, maar niemand wil help nie,” in die 1983-vertaling), verwys waarskynlik na die situasie in ‘n regsgeding waar die getuies regs van die aangeklaagde of verweerders gestaan het. Dawid gebruik dit nou as metafoor om te wys hoe benard sy situasie is. Daar is niemand wat vir hom intree nie, niemand wat vir sy saak opkom, niemand wat hom (en die manne by hom in die grot) bystaan en sy saak saam met hom beveg nie. Let op hoe hy sy eie onbenulligheid voor die Here bely, maar tog staatmaak daarop dat die Here groot dinge kan doen as Hy hom uit sy gevangenskap sal lei. Dan sal hy nie net die Here se Naam kan loof nie, maar ‘n begeleidende rol kan speel daarin in die geloofsgemeenskap: “Regverdiges sal om my saamkom as U aan my goed doen.” (vers 8 in 2020-vertaling). Hy hoop dus daarop dat God hom sal red ter wille van die getuienis wat dit in die geloofsgemeenskap van God se goedheid sal kan oordra

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm na aanleiding van sy verblyf in die grot. ’n Gebed. Ek roep tot die Here; ek pleit om die Here se genade. Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge. Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. Op die pad waarop ek loop, het hulle vir my ’n strik gestel. Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie. Daar is vir my geen ontvlugting nie, en niemand gee om vir my nie. Ek het tot U gebid, Here. Ek het gesê: “U is my toevlug, my deel in die land van die lewendes. Luister na my hulpgeroep, want ek is terneergedruk. Red my van dié wat my vervolg, want hulle is te sterk vir my. Bevry my uit die gevangenis sodat ek u Naam kan loof. Opregtes sal rondom my kom staan, want U is goed vir my.”” NLV

Boodskap en betekenis

Ons leer uit hierdie Psalm dat die verlossing wat God uit die “grotte” van die wêreld gee, altyd moet uitmond in lof aan God sowel as in die bevestiging van sy ingrype in die lewe van die geloofsgemeenskap. Dit is ten diepste die doel van die getuienisse wat God lewer in ons lewe, maak nie saak hoe klein of groot die grot is waaruit Hy ook vir ons lei nie. Hy maak Homself groot en gee die geloofsgemeenskap moed daardeur. Daarom kan en mag ons ook saam met Dawid dié gebed bid, in watter situasie ons ook al is, en wag dat God antwoord, soos en wanneer Hy wil. En soos Dawid, kan en moet ons ook daarvan getuig in die vergadering van die gelowiges, wanneer Hy ons uitlei uit dié dinge wat ons aan bande lê. Sulke getuienisse sal altyd tot God se eer en tot die versterking van die geloofsgemeenskap wees.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar