Skip to main content

Psalm 74:1-11

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 74 fokus op die vernietiging van die tempel, waarskynlik in 586 v.C. met die vernietiging van Jerusalem en die wegvoering van Juda in die Babiloniese ballingskap. Omdat die Psalm dus uit die ballingskap dateer, is dit waarskynlik geskryf deur nasate van Asaf wat regdeur die koningstyd (vgl. 2 Kron. 35:15) sowel as ná die ballingskap ‘n belangrike rol in die tempeldiens gespeel het (vgl. Esra 3:10; Neh. 11:17). Die psalm open met ‘n paar retoriese vrae waarmee (nasate van) Asaf dit regkry om God met die realiteit van die verwoesting te konfronteer, sonder om disrespekvol te wees soos wat die geval sou wees as dieselfde vrae in stellings uitgespreek sou wees. Die vernietiging van die heiligdom word beskryf. In plaas van lofsang van die gemeente het die oorwinningskreet van die vyande in die plek van samekoms weerklink en is alles daarbinne verwoes en aan die brand gesteek. Dit het eintlik regdeur die land gebeur. God se teenwoordigheid in terme van heilige geboue is uitgewis. Daarom pleit Asaf by die Here dat Hy tog sal dink aan die gemeente wat Hy lank gelede al vir Hom sy eiendom gemaak het.  Hy pleit dat die Here Hom weer aan hulle bekend sal maak deur sy profete en hulle sal help om veral sy eie eer te verdedig.

Bid die Psalm

“’n Gedig van Asaf. Waarom, o God, verstoot U ons so lank? Waarom is U so kwaad vir hulle wat aan U behoort? Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede gekies het, die volk gekoop as u eie erfenis, Sionsberg, waar U gewoon het. Kom loop tog gou tussen die puin van lank gelede, die puin van u heiligdom wat die vyand verwoes het. Daar het die oorwinningskrete van u vyand weerklink, hulle vyand het gevegsbaniere opgerig. Dit was asof mense, met byle omhoog, bome afkap in ’n digte bos. Al die houtsneewerk het hulle nou met byle en koevoete verpletter. Hulle het u heiligdom verbrand, die woonplek van u Naam tot op die grond ontheilig. Hulle sê vir mekaar: “Laat ons alles vernietig!” Toe verbrand hulle elke plek in die land waar God vereer is. Ons sien nie wondertekens nie; daar is geen profeet meer nie; en niemand by ons weet vir hoe lank nie. Hoe lank, o God, sal ons vyande U bespot? Hoe lank sal hulle u Naam vir altyd beledig? Hoekom hou U u regterhand terug? Steek uit u hand en vernietig hulle!” NLV

Betekenis en boodskap

Waar Asaf met Psalm 73 nog die voordeel van die tempel gehad het om antwoorde op sy vrae in die teenwoordigheid van God te kry, is dit nie meer beskikbaar in Psalm 74 nie. Al wat immers oorbly van die tempel is die herinnering dat dit ‘n plek was waar die Here eens gewoon het. Die ontreddering van die Psalmis strek egter veel verder as maar net die fisiese verwoesting van die stad, tempel en volk.  Sy diepste nood is dat God stil geraak het, dat daar niemand meer is wat God se boodskap verkondig nie (profete), dat dit lyk asof God nie meer omgee nie, dat Hy nie meer (wil) optree nie (wondertekens). Maar in die gebed om optrede is dit ook duidelik dat Asaf nie die Here beperk tot ‘n fisiese plek of gebou nie. Hy weet God het in elk geval die vermoë om op te tree en sy vyande te vernietig en sy volk weer in ere te herstel soos Hy in die verlede gedemonstreer het. Dit is ook die hoop wat ons het as ons kyk na die baie plekke in ons wêreld waar die geloofsgemeenskap verguis en vervolg word. Psalm 74 is dus ook ‘n gebed wat ons vir daardie broers en susters kan bid en God om uitkoms vra.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda