Skip to main content

Psalm 19:8-15

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Maar dié Psalm gaan nie net oor die heerlikheid van die skepping nie. Dit beweeg van ‘n loflied oor die skepping na ‘n loflied oor die wet van God wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping. In vers 8-10 word die waarde van die Woord beskrywe in terme van die impak wat dit in ‘n mens se lewe kan hê, nie as ‘n paaiboelie nie, maar as ‘n inspirasie. In vers 11 word die waarde vergelyk met dié van goud en heuning. In vers 12-13a word dié waarde uitgespel as ‘n leerervaring wat uitmond en afsluit in vers 13b-15 met die gebed dat God van binne-af sal verander, sal reinig deur sy Woord en ‘n vastigheid sal gee wat die toets van die tyd sal kan deurstaan.

Bid die Psalm

“Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag. Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig. Die Here se bevele is reg, dit bring vreugde vir die hart. Die opdragte van die Here is duidelik; dit gee insig vir die lewe. Die gebooie van die Here is suiwer, dit bly vir altyd staan. Die Here se voorskrifte is reg; elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as die fynste goud. Hulle is soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. Dis ’n waarskuwing vir u dienaar, en ’n groot beloning vir dié wat dit gehoorsaam. Wie kan sy eie oortredings verstaan? Spreek my vry oor verborge sondes, en bewaar my van opsetlike sondes! Laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek vry wees van skuld, en onskuldig aan groot oortredings. Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright). En die wet is natuurlik die spilpunt van die verbond wat Israel aan God verbind het, die hart van Sy Woord aan hulle. Met die wet as hulle wegwyser, was Israel die uitverkore volk van die Skepper God. Die Psalmis het gehoop dat dié skets van die Woord, soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek, hulle sou inspireer, sou laat begeer om in die Woord te lewe, dit hulle huis te maak, sodat God nie net ‘n veraf en van-bo-af God sou bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in die lewe deur sy Woord betrokke is, en hulle Hom sou ontmoet in die Woord en met sy Woord aan hulle sy en in hulle hart met Hom ‘n pad sou stap. In Kolossense 1:15-20 werk Paulus met ‘n herinterpretasie van hierdie Psalm, en noem hy Jesus die vervulling van die skepping (Kol 1:15-16) sowel as van die verbond (Kol 1:18b-20). Die Skeppergod is ook die verlossende Verbondsgod. Die verskil tussen Psalm 19 en Kolossense 1 is natuurlik dat die teologie van Jesus, die Messias, die een deur wie beide die skepping as die verlossing te weeg gebring is, die beskrywing van Psalm 19 afrond. Loof die Here dat jy Hom beide in Skepping en Woord kan beleef.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…