Skip to main content

Psalm 116:1-8

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

‘n Mens kan Psalm 116 in twee dele indeel op grond van die belangrike klem van die liefde vir God in vers 1-8 en die verdere klem op sy geloof in God wat tot verlossing gelei het en waarvoor hy die Here dank in die geloofsgemeenskap: vers 9-19. Die Psalm is ook belangrik weens die belangrike wyse waarop die Psalmis se getuienis fokus op God as die Verlosser en nie op homself as die verloste nie. Ons lees dit in twee dele.

Daar is ‘n besondere roerende weergawe van dié Psalm in die Liedboek van die NG Kerk van T.T. Cloete op die melodie van Maître Pierre Davantés: J’aime mon Dieu, car lorsque j’ay crié wat alreeds in 1562 getoonset is. Die melodie is dus al vier en ‘n half eeue met ons:

“God het ek lief, omdat Hy my verhoor.

Ek was beangs; Hy het na my geluister.

Toe ek Hom roep vanuit die dood se duister:

‘Heer, red my tog,’ het Hy my stem gehoor.”

Hier is ‘n orrelweergawe van Dick Sanderman wat jy op jou rekenaar kan speel terwyl jy dié vers saamsing of saambid (Whatsapp gebruikers kan dit op die webtuiste bybelskool.com vind).

Bid die Psalm

“Ek het die Here lief, want Hy antwoord my smeekgebed. Omdat Hy na my geluister het, sal ek Hom aanroep solank ek lewe. Bande van die dood het my omring, angs van die doderyk het my oorval. Vrees en verdriet het my oorweldig. Toe roep ek die Here se Naam aan: “Here, red my tog!” Die Here is genadig en regverdig. Ons God bewys barmhartigheid. Die Here beskerm die eenvoudiges. Ek was in nood, maar Hy het my gered. Nou kan ek weer gerus wees, want die Here was goed vir my. U het my van die dood gered, my oë van trane bevry, my voete van struikeling weerhou.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat die Psalmis baie direk oor die liefde vir God praat. Daar is verskeie Psalms wat praat van God se liefde vir sy mense (Ps. 11:7; 41:12; 146:8), sy liefde vir die reg (Ps. 33:5; 37:28; 45:8; 99:4) en sy liefde vir Sion (Ps. 84:2). ‘n Hele paar Psalms praat ook van die geloofsgemeenskap se liefde vir die tempel en Sion (Ps. 26:8; 84:2; 102:15), asook vir die wet (Ps. 119:113, 119, 163), die verordeninge (Ps. 119:167), en die woord (Ps. 119:140). Maar net drie Psalms praat direk van die Psalmis se liefde vir God self:

  • Psalm 18:2: “Ek het U baie lief, Here, my Sterkte.” Die liefde vir God word in die konteks van Dawid wat uit die mag van Saul verlos is, verklaar.
  • Psalm 97:10: “Julle het die Here lief, haat dan wat sleg is.” Die liefde word as motivering vir ‘n heilige lewe aangevoer.
  • Psalm 116:1: “Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.” Weereens word die liefde in die konteks van die verlossing uit gevaar uitgespreek, soos met Psalm 18.

Die Psalmis is lief vir die Here omdat hy uit gevaar gered is. Die Here het na hom geluister in sy genade, regverdigheid en ontferming (Ps. 116:5). Hy kan dus tot rus kom, want die Here het goed aan hom gedoen, ‘n einde aan sy trane gemaak (Ps. 116:7-8). Die Psalmis beskryf egter die situasie waaruit hy gered is net vaagweg. ‘n Mens kan agterkom dat dit iets te make het met doodsangs (Ps. 116:3,8) waarin hy gedink het dat mense hom óf in die steek gelaat het of net afwesig was (Ps. 116:11). Dit kan ook wees dat hyself gestruikel het op een of ander wyse, of van struikeling bewaar is (Ps. 116:8). ‘n Mens sou goedskiks kon dink dat dieselfde agtergrond van die verlossing uit die mag van Saul van toepassing kon wees, soos dit uitgespel word in Psalm 18, maar ons weet nie genoeg om dit te kan sê nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar