Skip to main content

Psalm 38:13-23

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid se siekte is ’n aanleiding vir sy vyande om vir hom strikke te stel, hom kwaad aan te doen en vals beskuldigings na hom te slinger.  Let op hoe Dawid kies om nie na hulle te luister nie, nie eers te antwoord op hulle aanklagte nie, maar sy vertroue op God self te stel terwyl hy ook sy ongeregtigheid teenoor Hom bely.  Die Psalm eindig met die roerende pleidooi dat God hom tog nie sal verlaat nie, nie ver van hom af sal bly nie en gou sal maak om hom te help. God alleen is sy Redder.

Bid die Psalm

“Hulle wat my lewe soek, stel vir my ’n lokval; hulle wat my ondergang soek, maak planne om my te vernietig. Hulle dink die hele dag aan verraderlike planne. Maar ek hou my doof vir hulle dreigemente. Voor hulle bly ek stil soos iemand wat stom is. Ek is soos iemand wat doof is en wat niks het om te sê nie. Maar ek hoop op U, Here. U sal antwoord, Here my God. Ek vra U: “Moenie dat hulle bly word oor my leed, of hulle oor my verhef as ek struikel nie.” Ek is op die punt van ineenstorting, ek beleef voortdurende pyn. Maar ek bely my sondes; ek is baie jammer oor wat ek gedoen het. My vyande is baie en magtig; hulle haat my sonder rede, hulle wat so baie is. Hulle vergeld my kwaad vir goed en staan my teen omdat ek najaag wat reg is. Moet my tog nie verlaat nie, Here my God, moenie ver van my af bly nie. Kom tog gou om my te help, Here, my redder.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm bly een van die uitsoek Psalms wat enige kind van God in die krisis wat siekte bring, kan bid. Maar, ons het ook die voorreg dat ons deur die NT gewys word daarop dat die verband tussen sonde en siekte meer genuanseerd getrek kan word. Jesus wys bv. met die verhaal van die genesing van die blinde man dat sy gebrek met God se verheerliking verband hou, nie met sy sonde nie (Joh. 9). Siekte is immers ook die gevolg van die verganklikheid van die lewe, waaraan ’n mens deel het, sonder dat dit noodwendig met jou eie persoonlike skuld te make het. Wat ook al jou situasie dus is, jy kan met vrymoedigheid vir die Here vra om hulp. Hy sal antwoord, want Hy is die Redder, soos Dawid hier bely.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar