Skip to main content

Psalm 119:89-96

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis verwonder hom in die twaalfde deel van die Psalm oor die blywende waarde van die openbaring van God: “U woord, Here, is vir altyd, dit staan vas in die hemel.” Daar is ‘n permanensie en betroubaarheid aan God se woorde wat nie net in die geskape werklikheid van die hemel en die aarde raakgesien kan word nie (Ps. 119:89), maar ook in die durende en blywende effek wat sy woord – geskrewe en ongeskrewe – in die geskiedenis het, van geslag tot geslag (Ps. 119:91). God se skeppingswoord bevestig die blywende waarde van sy openbaringswoord. God se woorde gaan daarom nooit uit die mode nie, die vreugde daarvan bly van krag selfs in die grootste ellende en swaarkry wat ons kan beleef. Dit hoef nooit opgedateer te word nie. Dit is genoeg vir elke situasie wat mag ontstaan. Daarom kan ‘n mens daarop staatmaak. Dit maak jou nie net lewend nie (Ps. 119:93), maar dit hou jou in die lewe, anders sou ‘n mens se ellende vir jou te veel geword het. Soos Peterson vertaal: “If your revelation hadn’t delighted me so, I would have given up when the hard times came.” (The Message) Daarom is dit só belangrik om jou hele lewe om God se woorde te laat draai. Trouens, die Psalmis sê: “Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe.” Hy weet sy eie voortbestaan hang van dié woorde van God af. In die permanensie van God se woorde vind die Psalmis sy eie permanensie! Want dit is die realiteit van God se openbaring. Soos die laaste reël van vers 96 sê: “u gebooie ken geen grense nie”. Dit bedoel dat die diepte en wydte van God se openbaring nooit volledig ondersoek en begryp kan word nie. Dit is dieselfde as wat van sy liefde gesê word, dat dit onbegrens is. Daar is altyd nóg ‘n kant daarvan wat vir die Psalmis oopgaan en sy vreugde in en verbintenis aan God se woorde verdiep.

Bid die Psalm

“U woord, Here, is vir altyd, dit staan vas in die hemel. U trou is vir geslag na geslag, U het die aarde gevestig, en dit staan nog vas. U bepalings is vandag nog waar, want al hierdie dinge is u dienaars. As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende. Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe. Ek behoort aan U; red my tog! Want ek vra na u bevele. Bose mense wag my in om my dood te maak, maar ek neem u waarskuwings in ag. Selfs volmaaktheid het sy perke, maar u gebooie ken geen grense nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Jeremia het dieselfde gedagtes in sy Klaagliedere opgeteken oor God se liefde. Juis toe hy in die ballingskap gedink het dit is klaar met hulle en met hulle hoop op die Here, het die besef gekom: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie. Daar het ’n oorblyfsel gebly. Wat vir Jeremia beteken het: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” Dié woorde het Robert Davidson geïnspireer tot die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.” Daarteenoor staan al die ander dinge op aarde, selfs waar dié dinge wonderlik is, selfs volmaak is. Alles het ‘n grens, net God se openbaring nie. Trouens, al dié dinge in hemel en op aarde is God se diensknegte. Hulle voer sy besluite en bepalings uit, bring sy openbaring tot hulle volle verwerkliking. Daarom kan ‘n mens op God se woorde staatmaak, al kan ons nie dieselfde sê van enige ander ding wat bestaan nie, hoe volmaak ook al.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar