Skip to main content

Psalm 119:129-136

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Ná die pynlike insig wat in die vorige deel van die Psalm verwoord is, verwonder die Psalmis hom in die sewentiende deel van Psalm 119 oor die lig wat God se woorde in sy lewe aansteek: “As u woorde oopgaan, gee dit lig.” (Ps. 119:130). Dit is waarom die Psalmis nie omgee om God se bepalings na te kom nie, want dit is – ten spyte van die pyn van gehoorsaamheid – uiteindelik “wonderlik” (Ps. 119:29), want dit gee vir die eenvoudige (onervarene) insig (Ps. 119:130).

Bid die Psalm

“U voorwaardes is wonderlik; daarom gehoorsaam ek hulle. Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige. My mond is oop en ek snak na asem, want ek verlang na u gebooie. Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet. Rig my treë deur u woord sodat boosheid my nie oorval nie. Red my van menslike verdrukking sodat ek u bevele kan gehoorsaam. Laat u guns oor u dienaar skyn; leer my al u voorskrifte. Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis bly hy met sy hele wese smag na God se gebooie, want dit is vol van genade. Dit getuig van God se omarming van ons. Hoor net hoe pragtig sê hy dit in sy gebed: “Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet.” (Ps. 119:132). Genade is God se Gewoonte teenoor Gelowiges! ‘n Mens kan ‘n lewe lank oor die betekenis van hierdie vers nadink! God se woord doen nog meer as net om genade uit te deel. God se woorde rig ‘n mens se treë, sê die Psalmis, sodat geen onreg oor ons kan heers nie, of die kwaad oor ons die oorhand kry nie, sodat ons uiteindelik van onderdrukking of verontregting deur mense verlos kan word, en enduit aan God se opdragte kan vashou (Ps. 119:133-134). Gehoorsaamheid aan die woord is dus God se manier om ons pad in die lewe te beveilig, soos Psalm 1 ook sê: “die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddelose mense loop dood.” (Ps. 1:6). Dit laat die lig van God se teenwoordigheid oor sy diensknegte skyn sodat God se voorskrifte in sy lig geleer kan word (Ps. 119:135). Die donker kant in hierdie deel van die Psalm is dat daar egter steeds mense is wat – al is die lig in God se voorskrifte te vinde – God se wet nie onderhou nie, tot groot verdriet van die Psalmis: “Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag.” (Ps. 119:136). Die openbaring van God gee die Psalmis dus beide vreugde as verdriet – vreugde oor die betekenis daarvan vir hom; verdriet omdat daar mense is wat die betekenis mis, omdat hulle hulle nie daaraan hou nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar