Skip to main content

Psalm 106:1-5

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 106 fokus op die fundamentele goedheid van die Here wat in sy troue liefde raakgesien kan word. Omdat die troue liefde van die Here iets is wat vir ewig duur, beteken dit dat sy goedheid ook vir ewig is. Dit vorm daarom die basis van die Psalmis se gebed dat die Here tog ook aan hom sal dink wanneer Hy weer sy guns aan die volk sal bewys. Dit is waarom die Psalmis soveel tyd afstaan in die Psalm om God te prys vir sy magtige dade in die verlede, die verhale van die verlossing uit Egipte, die begeleiding deur die woestyntyd sowel as die vestiging van die volk in Israel, veral omdat dit gedoen is ten spyte van die sonde en opstand van die volk (vers 6–46). Want, daarin lê hulle en natuurlik sy eie hoop op verlossing, dat God soos in die verlede aan sy troue liefde getrou sal bly. Dít vorm dan ook die breë drie-deling waarin die Psalm opgedeel kan word: 1) LOFPRYSING: God se fundamentele goedheid wys in sy troue liefde – vers 1–5. 2) BELYDENIS: God verlos sy volk ten spyte van hulle sonde en opstand – vers 6–46. 3) SMEEKGEBED: Verlos ons nou weer, Here ons God – vers 47–48. Omdat die middelste deel egter so lank is, deel ons die Psalm in 5 dele op.

Bid die Psalm

“Prys die Here! Dank die Here, want Hy is goed! Sy trou ken geen einde nie. Wie kan die magtige dade van die Here beskryf, of sy lof ten volle bekendmaak? Gelukkig is hy wat geregtigheid laat geskied en wat altyd doen wat reg is. Dink aan my, Here, wanneer U aan u volk guns bewys; kom my met u redding tot hulp sodat ek deel kan hê aan die voorspoed van u uitverkorenes, my verheug in die vreugde van u nasie, en U loof saam met u eie volk.” NLV

Boodskap en betekenis

God se getrouheid vir ewig is die basis vir ons eie vertroue op God. Daarin sien ons God se goedheid en motiveer dit ons om ten spyte van watter situasie ons ons ook al in mag vind, ons Hom om uitkoms kan nader. Die Psalmis is egter ook eerlik oor die geluk wat lê in ’n regte lewe, waar ons ook by elke geleentheid die regte ding doen. Maar, belangrik, die geldigheid van ons beroep op God lê nie in ons eie dade nie, maar in die guns wat Hy aan ons as sy uitverkorenes bewys. Daarom maak die Psalmis staat daarop dat God aan hom sal dink vanuit sy liefde vir die volk en hom só in die redding van die volk sal insluit. Só sal hy kan deel in die blydskap van dié wat aan God behoort.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar