Skip to main content

Psalm 47

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is ’n jubelende Psalm wat nie net die volk van die aartsvaders (Jakob, Abraham) oproep om God se lof te besing bo alles nie, maar alle nasies en hulle leiers saam wil intrek in hierdie loflied aan God.  Want, God is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3, 8) en oor al die nasies (vers 9, 10). Die motivering vir hierdie oproep tot lof is tweërlei en vorm die hart van die twee dele van die Psalm: 1) Lof aan God vanweë sy onderwerping van die nasies – vers 2-5; 2) Lof aan God vanweë sy vereniging van die nasies – vers 6-10. Let op in vers 9 dat God op sy troon sit (soos die NLV en 2020-vertaling korrek vertaal) waarmee sy beheer en heerskappy uitgedruk word.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Psalm. Al julle volke, klap julle hande! Juig voor God met groot gejubel! Want ontsagwekkend is die Here, die Allerhoogste, die groot Koning wat heers oor die hele aarde. Hy onderwerp volke aan ons, maak mense onderhorig aan ons. Hy het vir ons ’n erfdeel gekies, die trots van Jakob wat Hy liefhet. Sela God gaan op met groot gejuig, die Here gaan op terwyl die ramshorings blaas. Prys God, prys Hom; prys ons Koning, prys Hom! Want God regeer oor die hele aarde. Sing vir Hom ’n pryslied! God regeer oor die nasies, God sit op sy heilige troon. Die heersers van die volke vergader saam met die volk van die God van Abraham. Die konings van die aarde behoort aan God. Hy is hoog verhewe.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is hierdie perspektief op God in die OT wat duidelik ’n groot rol gespeel het ook in die beskrywing van God in die NT, bv. in die Openbaring van Johannes. God word daar op verskeie plekke uitgebeeld as die Een wat op die troon sit as teken van die absoluutheid van sy heerskappy (Openb. 4:2, 9, 10; 5:1, 7, 13; 6:16; 7:10, 15; 19:4). Dit is ’n perspektief wat ook op Jesus in die NT van toepassing gemaak is, veral na Jesus se opstanding en hemelvaart, wanneer bely word van Hom dat Hy aan die regterhand van God op die troon gaan sit het. Jesus se troonsbestyging is fundamenteel tot sy werk en ons begrip daarvan (Matt. 23:22; Mark. 16:19; Luk. 22:69; Rom. 8:34; Kol. 3:1; Heb. 1:3; 10:12; 12:2). Geen wonder dit het só ’n belangrike invloed op ons geloofsbelydenisse van die eerste paar eeue van ons jaartelling gehad nie. Onthou ook dat hierdie Psalm die inspirasie is vir die lied: “Alle volke, klap julle hande – juig tot eer van God. Verhef julle stem en roem Sy Naam in elke stad op aarde. Sing en sing en sing dan saam; loof en prys Sy grote Naam, want Hy is ewig Koning in die Hemel en op aarde! Sing en sing en sing dan saam; loof en prys Sy grote Naam, want die Hemelkoning skenk ons Sy genade!” (LB 547 vers 1). Laat die woorde van die lied in jou binneste bly vandag. God is koning oor die hele aarde. Hy voer heerskappy oor alle nasies.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar