Skip to main content

Psalm 47

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is ’n jubelende Psalm wat nie net die volk van die aartsvaders (Jakob, Abraham) oproep om God se lof te besing bo alles nie, maar alle nasies en hulle leiers saam wil intrek in hierdie loflied aan God.  Want, God is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3, 8) en oor al die nasies (vers 9, 10). Die motivering vir hierdie oproep tot lof is tweërlei en vorm die hart van die twee dele van die Psalm: 1) Lof aan God vanweë sy onderwerping van die nasies – vers 2-5; 2) Lof aan God vanweë sy vereniging van die nasies – vers 6-10. Let op in vers 9 dat God op sy troon sit (soos die NLV en 2020-vertaling korrek vertaal) waarmee sy beheer en heerskappy uitgedruk word.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Van die Koragiete. ’n Psalm. Al julle volke, klap julle hande! Juig voor God met groot gejubel! Want ontsagwekkend is die Here, die Allerhoogste, die groot Koning wat heers oor die hele aarde. Hy onderwerp volke aan ons, maak mense onderhorig aan ons. Hy het vir ons ’n erfdeel gekies, die trots van Jakob wat Hy liefhet. Sela God gaan op met groot gejuig, die Here gaan op terwyl die ramshorings blaas. Prys God, prys Hom; prys ons Koning, prys Hom! Want God regeer oor die hele aarde. Sing vir Hom ’n pryslied! God regeer oor die nasies, God sit op sy heilige troon. Die heersers van die volke vergader saam met die volk van die God van Abraham. Die konings van die aarde behoort aan God. Hy is hoog verhewe.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is hierdie perspektief op God in die OT wat duidelik ’n groot rol gespeel het ook in die beskrywing van God in die NT, bv. in die Openbaring van Johannes. God word daar op verskeie plekke uitgebeeld as die Een wat op die troon sit as teken van die absoluutheid van sy heerskappy (Openb. 4:2, 9, 10; 5:1, 7, 13; 6:16; 7:10, 15; 19:4). Dit is ’n perspektief wat ook op Jesus in die NT van toepassing gemaak is, veral na Jesus se opstanding en hemelvaart, wanneer bely word van Hom dat Hy aan die regterhand van God op die troon gaan sit het. Jesus se troonsbestyging is fundamenteel tot sy werk en ons begrip daarvan (Matt. 23:22; Mark. 16:19; Luk. 22:69; Rom. 8:34; Kol. 3:1; Heb. 1:3; 10:12; 12:2). Geen wonder dit het só ’n belangrike invloed op ons geloofsbelydenisse van die eerste paar eeue van ons jaartelling gehad nie. Onthou ook dat hierdie Psalm die inspirasie is vir die lied: “Alle volke, klap julle hande – juig tot eer van God. Verhef julle stem en roem Sy Naam in elke stad op aarde. Sing en sing en sing dan saam; loof en prys Sy grote Naam, want Hy is ewig Koning in die Hemel en op aarde! Sing en sing en sing dan saam; loof en prys Sy grote Naam, want die Hemelkoning skenk ons Sy genade!” (LB 547 vers 1). Laat die woorde van die lied in jou binneste bly vandag. God is koning oor die hele aarde. Hy voer heerskappy oor alle nasies.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…