Skip to main content

Psalm 104:10-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Here gebruik die reservoir van water onder die aarde, die fonteine, om deur die riviere water te gee vir al die diere, die wilde donkies, en die voëls van die hemel. Almal kan hulle dors les en sing van vreugde! Netso vul Hy dit aan uit sy hemelwoonplek (letterlik sy bokamers!) met reënwater sodat die aarde deur God se sorg versadig kan word. Daarby verskaf Hy voedsel aan alles wat leef en beef soos dit moontlik raak deur die seisoene wat Hy vasgestel het.

Bid die Psalm

“U laat fonteine water stort in klowe, wat stroom tussen die berge deur. Daar drink elke dier van die veld, selfs wildedonkies les hulle dors. Die voëls van die hemel maak nes langs die strome en sing tussen die bome se takke. Uit u hemelwoonplek laat U reën op berge, U vul die aarde met die vrugte wat U laat groei. U laat gras groei vir die beeste, en plante vir die mens, kos wat uit die aarde voortkom, wyn om harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, en brood om krag te voorsien. Die bome van die Here kry volop reën, hierdie seders van die Libanon wat Hy geplant het. Daar maak die voëls hulle neste, en bou die ooievaar sy nes in die toppe van hoë bome. Die hoë berge is vir die klipbokke, en die rotse ’n skuilplek vir dassies. Die maan het Hy gemaak om seisoene aan te dui, en die son weet wanneer om onder te gaan.” NLV

Boodskap en betekenis

Die voorsiening van water en voedsel staan in dié gedeelte voorop wat die wonderlike werklikheid beskryf dat alles wat leef ’n volhoubare ruimte kry op die aarde wat leefbaar gemaak is deur die Here. Die leefbaarheid lê ook in die onderlinge voorsiening in die ekologie. Die bome word versadig sodat die voëls soos ooievaars daarin kan nesmaak. Die berge gee skuiling vir die klipbokke en dassies. Selfs die ritmes van dag en nag en die seisoene het ‘n rol in die leefbaarheid van die aarde.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar