Skip to main content

Psalm 38:1-12 

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie is ‘n Psalm om te gebruik in siekte en vervolging as ’n smeekgebed na God se ingrype. Dit word ’n Herinnering genoem in vers 1, wat beteken dat dit ook gebruik is as lering oor die verband tussen siekte, sonde en skuldbelydenis. Dit is in baie persoonlike taal geskryf en beskryf Dawid se pyn en wroeging in siekte vanweë die afstand wat dit van God sowel as van sy vriendekring bring. Dit stel hom ook bloot aan vervolging. Die Psalm wentel dus om “sonde met siekte” – in meer as een sin.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. ’n Herinnering. Here, moenie my in toorn straf en my in u woede kasty nie! U pyle het my getref, u hand lê swaar op my. As gevolg van u toorn is my hele liggaam beseer; as gevolg van my sonde is elke been gebreek. My oortredings het my oorweldig soos ’n las wat vir my te swaar is. My wonde sweer en stink weens my eie dwaasheid. Ek is krom en heeltemal geboë. Ek loop die hele dag en treur. My liggaam brand van koors; daar is geen deel wat gesond is nie. Ek is uitgeput en heeltemal platgeslaan. Ek kreun met ’n versugting uit ’n gebroke hart. U weet wat ek begeer, Here. U hoor elke versugting van my. My hart klop onstuimig, my krag begeef my. Daarby kan ek ook nie meer sien nie. My familie en vriende bly weg en is bang vir my siekte. Selfs my bure bly op ’n afstand.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm skets op amper onvergelyklike trant die worsteling en onsekerheid wat siekte as sodanig in ’n mens se lewe bring. Daar is die afstand van God en van vriende wat boonop jou ‘n skyf vir jou vyande maak. En dit trek ’n verband tussen sonde en siekte met die besef van en behoefte aan skuldbelydenis in die verwagting van God se genade, vergifnis en genesing. Die hoop in die Psalm is die feit dat Dawid in sy worsteling al hoe dieper besef dat die Here weet wat aan die gang is en dat Hy elke versugting van sy hart hoor. Dit is die een ankerpunt wat hom staande hou in die oorweldigende aanvegting wat hy beleef.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar