Skip to main content

Psalm 31:15-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid bevestig in die derde deel van die Psalm sy vertroue op die Here. Hy leer ons dat vertroue meer tot sy reg kom in die smeltkroes van die lewe. Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye. En Dawid kan vertrou, omdat hy glo: “My tye is in u hande” (vers 16 in 1983-vertaling en 2020-vertaling). Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hande” (Craigie; NLV). Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy dus nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God.

Bid die Psalm

“Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: “U is my God!” My toekoms is in u hande. Red my van vyande en vervolgers. Laat u guns oor u dienaar skyn, red my deur u troue liefde. Moenie dat ek in die skande kom nie, Here, want ek roep tot U om hulp. Laat die goddeloses in die skande kom, en in stilte neerdaal in die graf. Laat die leuenaars stilgemaak word, dié wat vol hoogmoed en veragting teen regverdiges praat.” NLV

Boodskap en betekenis

Jesus wys vir ons aan die kruis dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ’n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Maar, bid kan ons bid. Dit is juis wanneer almal skinder oor hom en sy ondergang beplan – d.w.s. in dié haglike situasie – wat Hy sy vertroue op die Here plaas, bid vir verlossing van vervolgers, maar steeds sy toekoms in God se hand los. Jô! Watter gebed!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar