Skip to main content

Psalm 69:31-37

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die laaste deel van die Psalm is ’n gebed vir regverdigheid eerder as vir wraak. Die verwagting van verlossing is net soseer ter wille van ’n boodskap aan die vyande as ter wille van die vreugde van verlossing vir die verdrukte. Almal moet weet – vriend en vyand – dat God regverdig is en dat Hy sorg vir dié wat op Hom bly vertrou ten spyte van die beledigings en verkleinerings.

Bid die Psalm

“Ek is ellendig en in pyn. Laat u redding, o God, my beveilig. Ek sal God se Naam loof met sang, Hom met danksegging verheerlik. Die Here verkies dit bo bulle en bo ’n volmaakte offerdier. Die verdruktes sal dit sien en bly wees. Laat almal wat God dien, weer moed skep, want die Here hoor dié in nood, en vergeet nie sy mense wat in aanhouding is nie. Laat hemel en aarde Hom prys, die see en alles wat daarin beweeg. Want God sal Sion red en die stede van Juda herbou. Sy volk sal daar woon en die land besit. Die nageslag van sy dienaars sal dit erf; en hulle wat sy Naam liefhet, sal daar woon.” NLV

Boodskap en betekenis

Almal wat onder druk is ter wille van die evangelie kan dus in die boodskap van die Psalm moed skep, want die belofte is dat die Here nie sy mense vergeet nie. Soos Dawid dit ervaar het, so bevestig God dit vir al sy dienaars vir altyd. Dit is presies wat met Jesus aan die kruis gebeur het. God het Jesus nie vergeet nie, soos Psalm 69 ‘n millennium tevore al beloof het. Deur veral sy opstanding is Jesus as regverdig bewys en het God Hom bó alle wesens verhoog. Daaruit kan ons die hoop put dat alles op die ou einde presies reg sal uitwerk. Dit is wat God belowe.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar