Skip to main content

Psalm 46

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die verwysing na “jongvroue” is ‘n vertaling van die term alamot (“sopraanstemme” 1933-vertaling), maar dit is waarskynlik ‘n musiekterm waarvan ons nie mooi die betekenis uit die Skrif kan aflei nie (vgl. 1 Kron. 15:20). Dit is weereens ‘n Psalm van die Koragiete wat in drie dele gedig is (vgl. die Selas wat help om die verdeling raak te sien). Die agtergrond vir dié eerste deel van die Psalm word nie aan ‘n presiese natuurlike gebeurtenis verbind word nie, hoewel dit duidelik ‘n aardskuddende ervaring was. Om die waarheid te sê, die omvang daarvan word met ‘n kosmiese katastrofe vergelyk waarin die grond en die berge padgee en in die druisende skuimende see gestort word. Dit kan daarom ook ’n metafoor wees vir die persoonlike worsteling met nood en lyding. Die Psalm is egter ook nie net ‘n viering van God se verlossing uit haglike omstandighede nie, maar ook ‘n viering van sy vaste teenwoordigheid in die Godstad en heilige woning, waarmee sy keuse vir Sion bevestig word, soos ook met die volgende 2 Psalms die geval is. Nasies kan dus raas en koninkryke wankel in die loop van die geskiedenis, maar God bly vir die Godsvolk ‘n beskutting.  Hy is immers ook die God van die geskiedenis. Die laaste deel van die Psalm praat van die omvattende vrede wat God op die aarde tot stand gaan bring, wat weereens lyk na ‘n “einde van die wêreld” ervaring waarvan onder andere die profete (bv. Jes. 2:4) ook skrywe.  Dit is met dié toekomsvisie wat die Psalmis dan in vers 11 verklaar: “Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word deur die nasies, verhewe wees oor die hele aarde.”  Want God is ook die God van die toekoms.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Psalm van die Koragiete. Op die wysie van “Jongvroue”. ’n Lied. God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help. Daarom sal ons nie bang wees nie, al bewe die aarde, al verskuif die berge diep in die see; al bruis en skuim die waters, al skud die berge as die waters styg! Sela Die strome van die rivier bring vreugde in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God self woon daar; dit sal nie beweeg nie. As die dag breek, sal God kom help. Die nasies rumoer en koninkryke wankel. God praat, en die aarde versmelt. Die Here, die Almagtige, is by ons; ons skuilplek is die God van Jakob. Sela Kom, aanskou die werke van die Here, wat verwoesting bring op die aarde en oorloë beëindig oor die hele aarde. Hy verbreek die boog en vernietig die spies. Die skilde verbrand Hy met vuur. “Wees stil en weet Ek is God! Ek sal vereer word deur die nasies, verhewe wees oor die hele aarde.” Die Here, die Almagtige, is by ons. Ons skuilplek is die God van Jakob. Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm is ‘n kleinood in die nadenke van die geloofsgemeenskap oor die teenwoordigheid van God in ons nood. Dit geld vir die ervaring van die kragte van die natuur hetsy werklik of as metafoor vir ons worstelstryd met allerlei.  Hy is altyd bereid om te help, omdat Hy die Skeppergod is wat alles gemaak het. Dit geld ook die aanslae van nasies teenoor mekaar regdeur die geskiedenis waarin die belydenis van God se teenwoordigheid telkens rus bring midde-in die nood.  God is dus ook die God wat die geskiedenis in sy hand hou. Dié nadenke sluit ook telkens die vasgryp aan die (eskatologiese) droom dat God uiteindelik sy vredesryk volledig tot vervulling sal bring op die aarde. God is ook die God van die toekomstige herskepte wêreld. Maarten Luther het daarom dié Psalm as inspirasie gebruik om sy aangrypende lied te skryf: “’n Vaste burg is onse God.” Die Liedboek van die NG Kerk het ‘n verwerking in Liedboek 476 daarvan, en die bekende melodie word ook vir Psalm 27 en Liedboek 477: “Hou Christus self sy kerk in stand”, gebruik. Hierdie Psalm bemoedig ons dus met die krag van God wat sorg dat niks uit hulle plek skuif nie. Hy is ’n toevlug wat skuiling bied in selfs die ergste storms. “Wees stil, en weet, Ek is God!” Hoog bó die aarde. Hoog bó die nasies. Dié God is met jou. Verlustig jou in die vrede en vreugde wat hierdie God vandag vir jou bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar