Skip to main content

Psalm 79

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 79 bring die haglike toestand van die volk wat agtergebly het in die land, na die meeste van hulle in ballingskap weggevoer is, onder God se aandag.  Die tempel is ontheilig, die stad is vernietig en baie min van hulle het oorgebly.  Daarom pleit Asaf by God dat Hy hulle situasie sal omkeer. Interessant genoeg is die Psalm eintlik ’n samevoeging van frase uit ander bekende Palms.  Dit is asof die skrywer(groep) hulle gebed om redding saamgestel het uit hulle geheue, van dele van ander Psalms wat vir hulle betekenis gehad het: vgl. bv. vers 4 se beskrywing van die vyande met Psalm 44:15; ook vers 9 se pleidooi op grond van God se naam met die soortgelyke frase in die bekende Psalm 23:3 en verskeie ander plekke.  Tate (Word kommentaar) noem amper 30 verwysings wat met Psalm 79 verbind kan word.  Dit is net vers 3-4 en vers 13 wat waarskynlik eie formulerings is.  Psalm 79 is dus ’n soort verpersoonliking van Psalmfrases om ’n eie gebed tot God te bid, in ’n ander situasie as dié waarin die Psalms in die eerste plek geskryf is.  Dit is amper soos ons ’n spontane gebed sou bid waarin ons sekere Bybelfrases wat vir ons van betekenis is, sal gebruik.

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. O God, heidense nasies het gekom, en u eie erfdeel binnegeval. Hulle het u heilige tempel verontreinig en Jerusalem ’n puinhoop gemaak. Hulle het die lyke van u dienaars vir die voëls gegee om te vreet, die vleis van u getroues was kos vir wilde diere. Hulle bloed het soos water rondom Jerusalem gevloei, en daar was niemand om hulle te begrawe nie. Ons is ’n bespotting vir ons bure, verag en gespot deur almal om ons. Hoe lank nog, o Here? Sal U vir altyd kwaad wees? Sal u jaloesie brand soos vuur? Stort u toorn uit oor die nasies wat weier om U te erken en oor koninkryke wat u Naam nie aanroep nie. Want hulle het Jakob verslind, en sy woonplek verwoes. Moenie die sondes van ons voorouers teen ons hou nie. Ontferm U gou oor ons, want ons is baie mismoedig. God van ons verlossing, help ons, red ons tog ter wille van die eer van u Naam, en vergewe ons sondes ter wille van u Naam. Hoekom sou die nasies spot en vra: “Waar is hulle God?” Laat ons sien hoe U die nasies vergeld weens die bloedvergieting wat hulle oor u dienaars gebring het. Luister na die versugting van hulle wat gevange geneem is. Gebruik u groot krag en red hulle wat die dood in die gesig moet staar. Vergeld ons bure sewe maal, Here, oor die veragting wat hulle teen U geslinger het. Dan sal ons, u volk, die skape van u weiding, U vir altyd dank, en U prys van geslag tot geslag.” NLV

Boodskap en betekenis

Op roerende wyse word die effek van die beleg en verwoesting van Jerusalem en die tempel beskryf.  Lyke het oral rondgelê en is deur voëls en wilde diere gevreet.  Die bloed het rondom Jerusalem gevloei soos water.  Niemand is begrawe nie, wat die toppunt van skande vir ’n Oosterling was.  Dit het hulle ’n bespotting gemaak in die oë van almal rondom hulle. Hoe lank sal dit nog aanhou Here?  Is dit vir altyd klaar met ons?  Sal u woede vir ewig teen ons bly brand? Asaf bring Psalm 1 se paradigmatiese stelling dat die Here die regverdiges seën en die goddeloses soos kaf laat vergaan voor die Here.  Hy bid dat dít nou hier sal gebeur, dít wat Psalm 1 beskrywe: dat die heidene wat nie met God in ’n verhouding is nie, wat Hom nie ken nie, Hom nie dien nie, dit sal ontgeld; en dat die Here Hom oor die volk van God sal ontferm en hulle lot sal verander. Let op dat sy pleidooi gekoppel is aan ’n gebed om vergifnis vir hulle sonde en gegrond is op die eer van God se Naam wat in diskrediet gebring word weens die haglike situasie van die volk in die land.  Hy is ook nie net bekommerd oor dié in die land nie, maar ook oor dié wat gevange is (vers 11), dié wat in ballingskap is.  Dan sal die volk die Here loof “van geslag tot geslag” (vers 13). Dink veral daaraan dat die Psalm waarskynlik gebruik is deur die klein gemeenskappies van Jode wat in die land agtergebly het in die ballingskap.  Dit druk die afgryse van die agtergeblewenes wat krepeer van die ellende van hulle verlies op treffende wyse uit. Daarmee het dit ’n Psalm geword vir enigiemand wat ’n uitmergelende verlies ervaar het en smag na uitkoms en ommekeer.  Jy kan dié Psalm as basis vir jou eie gebed tot God gebruik. Dit beteken dat jy jou eie nood aan die hand van dié Psalm kan beskryf in jou gebed, jou skuld aan die toedrag van sake bely (indien dit in jou geval só is), en ’n beroep doen op die Here se “onverdiende” vergifnis en vra vir ’n lotsverandering.  Jy kan dit ook namens ander doen. Dit is daarom die gebed wat ek vandag saam met my neem vir almal wat worstel met hulle omstandighede en namens hulle sê ek ook: “Ontferm U gou oor ons, want ons is baie mismoedig.” (vers 8).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…