Skip to main content

Psalm 88

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van die Koragiete kom van Heman, die Esragiet.  Hy was een van vier bekende wyses in Israel: Etan (hy het Psalm 89, die volgende Psalm, geskryf), Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol (1 Kon. 4:31). Die wysheid van hierdie huis is wel deur Salomo oortref, maar hulle was steeds wyd geëer vir hulle wysheid. Hulle was almal nakomelinge van Serag uit die stam van Juda (1 Kron. 2:6), vandaar die naam Esragiet (nakomeling van Serag).  Hierdie Heman moet verder onderskei word van die ander Heman, ook uit die stam van Levi, maar ‘n kleinseun van Samuel wat ‘n tempelsanger en simbaalspeler was, saam met Asaf en Jedutan (wat ook Etan genoem is, maar weer onderskei moet word van Etan, die Esragiet, in die volgende Psalm!) in die tyd van Dawid (1 Kron. 6:33). Die Psalm is een van die donkerstes in die Psalmboek. Dit eindig nie verniet in die Hebreeuse teks met die woord duisternis nie: “My enigste geselskap is duisternis” (direk vertaal).  Dit is ’n donker worsteling met die onverklaarbaarheid van die lewe, die naaste wat ’n mens in die Psalms aan die smart van Job kom.  Waar Job egter op ’n hoopvolle noot eindig, bly dié Psalm in die donker al wagtende op die lig om deur te breek. Die enigste positiewe punt in die Psalm is die hoopvolle belydenis waarmee hy begin: “Here, God van my verlossing…”  Dit is die motivering vir sy gebed en die roerende pleidooi wat hy rig tot God om sy geroep te hoor, sodat sy gebed nie tevergeefs sal wees nie. Ons lees dit as ‘n eenheid om die volle gewig van sy worsteling te kan waardeer.

Bid die Psalm

“’n Lied. ’n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: Met fluitspel. ’n Gedig. Van Heman, die Esragiet. Here, God van my verlossing, dag en nag roep ek tot U. Luister tog nou na my gebed; hoor my hulpgeroep. Want my lewe is vol ellende, en die dood kom al nader. Ek word getel saam met dié wat op pad is na die graf. Ek het geword soos ’n sterk man met geen krag meer oor nie. Ek word saam met dooies getel, saam met gesneuweldes in die graf, hulle vir wie U nie meer onthou nie, wat afgesny is van u versorging. U het my heel onder in die diepste kuil gesit, in die donkerste dieptes. U toorn rus swaar op my, u golwe het oor my geslaan. Sela U het my vriende van my weggeneem. U het gemaak dat hulle my verafsku. Ek is vasgevang en kan nie ontsnap nie. My oë is dof van droefheid. Here, elke dag roep ek U om hulp, en sprei my hande uit na U in gebed. Is u wonders vir die dooies bestem? Staan dooies op om U te loof? Sela Word u liefde in die graf verkondig, en u trou in die plek van verderf? Is u wonders bekend in die donkerte, u regverdigheid in die plek van vergetelheid? Maar ek roep na U om hulp, Here. Elke oggend is my gebed voor U. Here, waarom verstoot U my? Waarom draai U weg van my? Vanaf my jeug het ek gely en was ek naby my dood. Die las van u verskrikking het my in verwarring. U toorn het my oorweldig; u verskrikking het my vernietig. Die hele dag omring hulle my soos vloedwater en sak op my toe van alle kante. U het geliefdes en vriende van my weggeneem. Duisternis is my enigste geselskap.” NLV

Boodskap en betekenis

Heman het net mooi genoeg gehad van teenspoed, die swaarkry het vir hom te veel geword. Hy beskryf sy nood met beelde wat op roerende wyse uitdruk dat hy amper dood is: “Ek word getel saam met dié wat op pad is na die graf.” Dit word in die 1983-vertaling weergegee met die Afrikaanse idioom: “Ek staan al met die een voet in die graf.” Maar, let op, hy is bang sy stem sal stil raak in die graf en keer dat hy God loof en van Hom getuig.  Hy wil nie beland in die “The Land of Forgetfulness” (Tate se kommentaar) en maak met ‘n reeks retoriese vrae ’n sterk argument daarvoor uit dat God hom moet help, ter wille van die lofprysing en getuienis wat Hom toekom. Dit is ervarings waarmee baie van ons op een of ander tyd in ons lewe geworstel het.  En die realiteit daarvan is dat dit baie keer ’n amper onmenslike lang tyd só aanhou, sonder dat daar antwoorde of oplossings is. Gelukkig is daar darem ná dié Psalm ook ‘n Psalm 89.  Psalm 88 spreek nie die laaste woord oor God nie!  Dit is egter ’n eerlike en egte worsteling met die onverklaarbaarheid van die lewe.  Daar is nie maklike antwoorde en vinnige oplossings nie.  Dit is ’n Psalm vir die winternag van ons menslike ervarings. Die hoop is dat die Psalm ons ook leer om vanuit die belydenis van God se hulp en bystand na Hom te roep wanneer dié hulp en bystand nêrens meer te sien of te ervaar is nie.  Dit is omdat daar ook ’n ander ervaring van God is, dat Hy saam met ons in die dal van doodskaduwee is, dat ons in dié tye waar ons sy hand nie ervaar by ons nie, tog op Hom kan vertrou. Al raad in tye van swaarkry is dus om die saak voortdurend met God op te neem, vanuit die vertroue dat Hy daar is en ’n beloner van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6), totdat Hy antwoord. My gebed vandag is vir diegene vir wie die duisternis ’n vertroueling geword het, wat voel asof die water hulle heeltemal omsluit, wat voel asof hulle besig is om heeltemal onder te gaan, of hulle met een voet in die graf staan.  Vir dié vir wie die swaarkry te veel geword het, vir julle bid ek dié Psalm in die vertroue dat die: “God van my Verlossing” sal opdaag en inderdaad sal help.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda