Skip to main content

Psalm 119:33-40

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie vyfde gedeelte van die Psalm is ‘n gebed wat saamgestel is uit agt versoeke aan die Here, dinge wat hy nodig het om in ‘n verhouding met God te kan lewe:

  1. Leer my …
  2. Gee my insig …
  3. Laat my wandel …
  4. Laat my verlang …
  5. Weerhou (letterlik: “…my oë”) …
  6. Bevestig u belofte …
  7. Neem smaad van my weg …
  8. Laat my lewe …

Bid die Psalm

“Leer my, Here, hoe om u voorskrifte uit te voer sodat ek hulle tot die einde toe kan nakom. Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam. Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind. Laat my verlang na wat U vereis; verhoed dat ek materialisties word. Weerhou my van waardelose dinge; laat my lewe volgens u voorskrifte. Bevestig opnuut aan my u belofte, wat bedoel is vir hulle wat U dien. Neem weg die smaad wat ek vrees, want u bepalings is goed. Ek verlang van harte na u bevele. Laat my lewe deur u geregtigheid.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie dinge is nodig om hom help om die doel van sy lewe te kan bereik, ‘n doel wat alles met God se openbaring aan hom te make het. Hy vind vreugde daarin en verlang daarna. So klink dit:

  1. Hy wil God se voorskrifte enduit nakom … dit is iets wat hy moet leer.
  2. Hy wil God se wet met sy hele hart nakom en onderhou … dit is iets waarvoor hy insig nodig het.
  3. Hy vind vreugde in God se bevele … daarom kan dit hom begelei.
  4. Hy wil God se bepalings nakom, en nie op winsbejag uit wees nie … daarom is dit ‘n hartsaak.
  5. Hy wil nie na nuttelose dinge staar wat hom sy lewe kan kos nie … daarom het hy ‘n wag voor sy oë nodig, soos Job ook eenmaal vermeld het (Job. 31:1 – vgl. Jesus in Matt. 5:29 wat dieselfde sê).
  6. Hy wil hê dat daar ontsag vir God sal wees … daarom vra hy dat God sy woord/belofte aan hom gestand sal doen as ‘n getuienis aan ander.
  7. Hy wil God se goeie beslissings ervaar … want dit sal bespotting van hom wegneem.
  8. Hy verlang na God se opdragte … want die geregtigheid daarvan sal hom in die lewe hou.

Dit gee jou eintlik ‘n uitgebreide model om in jou gebedslewe te gebruik.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar