Skip to main content

Psalm 39:1-6 

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalm word in die 1983-vertaling as ’n Belydenis vir die koorleier beskryf. Dit is egter beter om daardie Hebreeuse woord, Jedutun, as ’n eienaam te neem (vgl. 1953- en 2020-vertalings en talle Engelse vertaling; dit kom ook in Ps. 62:1; 77:1 voor). Jedutun was een van Dawid se musiekleiers (vgl. 1 Kron. 9:16; 16:38,41) saam met Asaf en Heman, wat ook self vir ‘n paar Psalms verantwoordelik was. Die Psalm van Dawid was dus bedoel om deur die koorleier Jedutun uitgevoer te word. Hierdie Psalm wys hoe uiters belangrik nadenke en gebed is vir iemand wat worstel met die impak wat slegte mense op sy of haar lewe het.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Jedutun”. ’n Dawidspsalm. Ek het gesê: “Ek sal bedag wees op wat ek doen en nie sondig met wat ek sê nie. Ek sal versigtig wees om nie te praat in die teenwoordigheid van die goddelose nie.” Maar toe ek daar in stilte bly staan en nie oor goeie dinge kon praat nie, het my ontsteltenis groter geword. Dit het in my begin kook. Terwyl ek nagedink het, het ek kwaad geword, en toe het ek begin praat: “Here, sê my tog wanneer is my einde. Wat is die getal van my lewensdae? Laat my besef hoe lank my lewe nog sal wees! Kyk, U het my lewe ’n blote handbreedte lank gemaak. My lewensduur is byna niks in u oë nie. Al is hy hoe selfversekerd, die mens is verganklik.” Sela” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm leer ons dat om in direkte gesprekke met slegte mense te gaan, baie keer eerder meer konflik bring as wat dit oplossings bring. Dawid beperk daarom sy gesprek met hulle sodat hy nie self sondig met wat hy sê nie. Maar om jou wroeging en ontsteltenis nou net weer in te hou, en niks te sê nie, maak ’n mens weer siek van binne. Twee optredes het meriete in sulke situasies, soos Dawid hier uitspel. 1) Refleksie en nadenke: “Ek sal bedag wees op wat ek doen…” (vers 2). Ironies genoeg laat dit hom besef dat kwaad word eintlik sinloos is. Die lewe is te kort. Om dit in wroeging oor slegte mense te spandeer, is dom. 2) Indringende smekende gebed oor jou eie situasie. Dit is met God wat elke emosie deur gesels moet word.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar