Skip to main content

Psalm 35:9-18

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die tweede en derde deel van Psalm 35 gaan Dawid se pleidooi oor in ’n geloofsbelydenis oor God wat sal optree. Hy sien al die verlossing wat God sal bring. Met sy hele wese sien Hy uit na die Here wat sy mag sal toon deur die magtelose te red van dié wat sterker is as hy. Die agtergrond vir die oorlog word geskets waarin die onskuld van Dawid, die koning, verklaar word en geworstel word met die onreg van die vyandige optrede. Dawid kontrasteer hulle venyn en skoorsoekery met sy eie omgee en gebed vir hulle, en roep om optrede deur die Here: “Hoe lank, Here, sal U net toekyk?” “Red my van hulle vernietiging…” (vers 17) “Dan sal ek U dank… ek sal U prys voor die groot skare van mense.” (vers 18).

Bid die Psalm

“Dan sal ek juig in die Here, ek sal my verheug oor sy redding. My hele wese sal uitroep: “Here, wie is soos U wat die hulpelose red uit die mag van die sterke, en die armes en behoeftiges van dié wat roof?” Kwaadwillige getuies staan teen my op. Hulle vra vir my dinge waarvan ek niks weet nie. Die goeie wat ek doen, vergoed hulle met boosheid terwyl ek siek is van wanhoop. Maar toe hulle siek was, het ek van droefheid rouklere gedra. Ek het myself verneder deur te vas, maar my gebede het teruggekom sonder ’n antwoord. Soos ’n vriend of ’n broer het ek opgetree, soos een wat treur oor sy moeder, geboë en in rou. Maar nou is hulle bly wanneer ek struikel. Hulle kom bymekaar, en lasteraars span saam teen my. Dié wat ek nie eers ken nie, trek my uitmekaar sonder ophou. Toe ek gestruikel het, het hulle my gespot, teen my hulle tande gekners. Hoe lank, Here, sal U net toekyk? Red my van hulle vernietiging, beskerm my van hulle wat my lewe soos leeus bedreig. Dan sal ek U dank in die groot vergadering; ek sal U prys voor die groot skare van mense.” NLV

Boodskap en betekenis

Deur spesifiek in gebed te wees, kom ‘n mens self beter agter wat regtig aangaan, en kan jy ook jou motivering voor God deurdink. Let op dat dit ook nie net oor jouself gaan nie, maar dat die verlossing ook as getuienis in die geloofsgemeenskap sal dien. Vir enige bidder wat sy saak só voor God bepleit, kom daar dan ook ‘n tyd waar jy só bewus raak van God se teenwoordigheid en bereidheid om op te tree dat dit in ‘n geloofsbelydenis oorgaan. ‘n Mens sien die oorwinning. ‘n Mens dank God dat Hy sal optree. Doen dit nou in terme van jou eie situasie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar