Skip to main content

Psalm 116:9-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Nadat die Psalmis sy liefde vir die Here verklaar het weens sy ervaring van verlossing, beskryf hy op ‘n roerende manier sy geloof wat ten spyte van die gevaar en vertwyfeling nie tot niet gegaan het nie. Die Here het Hom gered en daarom sal hy die Here nou in die geloofsgemeenskap dank. Die Psalmis lewer daarom ‘n getuienis in die geloofsgemeenskap wat twee keer beskrywe word – Psalm 116:13-14; 18-19 – om die belangrikheid daarvan te onderstreep. Dit sluit ‘n drankoffer in, sowel as ‘n gelofte wat Hy aan die Here betaal in die teenwoordigheid van die geloofsgemeenskap.

Bid die Psalm

“Daarom wandel ek voor die Here in die land van die lewendes. Ek het geglo toe ek gesê het: “Ek is in groot ellende.” In my angs het ek uitgeroep: “Alle mense is leuenaars!” Hoe kan ek die Here vergeld vir al sy goeie dade aan my? Ek sal die beker van redding optel en die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk. Die dood van sy getroue dienaars is kosbaar vir die Here. Here, ek is u dienaar. Ja, ek is u dienaar, seun van u dienares. U het my bevry van my bande! Ek sal ’n dankoffer aan U bring en die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk in die voorhowe van die huis van die Here, in die hart van Jerusalem. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Ons kan baie by die Psalm leer oor hoe om ons eie getuienis in die geloofsgemeenskap te lewer. Uiteraard help detail om begrip te gee vir die situasie, maar die fokus moet op die Verlosser val, nie op die verloste nie. Die belangrike klem op die liefde vir God in die eerste deel word geëggo in die liefde wat God vir sy troue dienaars het: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” (Ps. 116:15). Dit is ‘n geweldige troos in die tipe uitdagings waarvoor elke getroue kind van God te staan kom. Dit is dié God wat ons in geloof laat bly volhard! Die drankoffer word in die Skrif verbind aan beide die verlossing uit gevaar – vgl. die verhaal van Jakob wat ‘n drankoffer uitgiet op die klip waar hy die ontmoeting met die Here by Bet-El gehad het (Gen. 35:14) – sowel as aan die offerkultus in die tempel. Interessant genoeg verbind ook Paulus geloof aan die metafoor van ‘n drankoffer in Filippense 2:17: “Julle geloof is ’n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly.” Dit is só wonderlik om die getuienis te hoor van hierdie Psalmis: “Die dood van sy getroue dienaars is kosbaar vir die Here,” of soos die 1983-vertaling dit vertaal: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” (Ps. 116:15). Uiteraard kan dit soms nie vermy word nie – soos die Here Jesus Christus ook moes agterkom – maar dit raak die hart van God.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar