Skip to main content

Psalm 55:10-15

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die tweede deel van die Psalm sit Dawid sy gebed en selfgesprek voort met verdere smekende intersessie sowel as ’n refleksie oor sy absolute teleurstelling in sy maat en goeie vriend.

Bid die Psalm

“Verslind hulle, Here, en verwar hulle spraak, want ek sien geweld en stryd in die stad. Dag en nag loop hulle rondom op die mure, maar die boosheid en onheil is in die stad! Verwoesting is aan die orde van die dag, verdrukking en bedrog heers in die strate. Dis nie ’n vyand wat my spot nie – dit sou ek kon verdra. Dis nie my vyand wat teen my grootpraat nie – ek sou vir hom kon wegkruip. Maar nou is dit jy, ’n man soos ek, my goeie vriend en my metgesel. Watter goeie kameraadskap het ons geniet! Ons het saam gegaan na die huis van God te midde van ’n skare mense!” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid bid dat God self hulle uitmekaar sal dryf weens die onreg en onheil wat hulle pleeg.  Want die probleem was nie buite die stad nie, maar binne die stad! Dawid se gebed is daarom dat die kommunikasie tussen die geweldenaars vertroebel sal word, dat hulle mekaar nie sal verstaan nie en dat wanorde hom sal wreek op hulle planne. Maar dan oorval sy teleurstelling hom en reflekteer hy oor die feit dat hy dié verraad nie van ’n vriend van hom verwag het nie.  Let op hoe die vriend se verraad geteken word, as iets wat die geestelike verbintenis tussen hulle verbreek het.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar