Skip to main content

Psalm 68:12-24

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die tweede deel word God se oorwinning van sy volk se vyande in die land Kanaän verheerlik met die berg Basan as simbool van dié vyandskap (vers 12-24). Die tyd van die Rigters word in herinnering geroep met die verwysing na ’n groot leër en magtige konings wat gevlug het “toe die Almagtige die konings uitmekaargejaag het.”  In ’n verwysing na Ruben wat nie in die oorlog teen koning Jabin en die hoof van sy weermag, Sisera, saam met Debora en Barak geveg het nie, maar “by die saalsakke bly sit” het (Rigters 5:16) herroep Dawid die situasie dat God die oorlog vir hulle gewen het en ten spyte van Ruben hulle se verraad, die vroue tuis die buit kon verdeel (Rigters 5:30).  Die stamme Gilead, Dan en Aser het natuurlik ook nie saam geveg nie, wat dui op die moeite om die volk in sy geheel in daardie tyd saam te snoer.  God se ingrype toe staan ook in die teken daarvan dat Hy eenheid onder hulle wou bring. Ook die Salmonsberg word genoem in die tragiese konteks van die oordeel oor Abimelek, seun van die rigter Gibeon, wat sy 70 broers doodgemaak het om alleenregeerder te word, maar uiteindelik deur ’n vrou om die lewe gebring is (Rigters 9:48), soos wat Sisera natuurlik ook deur ’n vrou, Jael, doodgemaak is (Rigters 4:21).  Interessant dat die enigste twee verhale waar vroue ’n beduidende rol in die Rigterstyd gespeel het, hier aangehaal word!

Bid die Psalm

“Die Here het bekendgemaak: “’n Menigte vroue bring die goeie nuus. Konings en leërs het gevlug.” Hulle het gevlug, en vroue het tuis die buit verdeel. Waar julle eers by skaapkrale gewoon het, is julle nou oordek met silwer en goud soos ’n duif hom toemaak met sy vlerke. Toe die Almagtige die konings verstrooi, het ’n sneeustorm op Salmonsberg gewoed. Basanberg is ’n godeberg, ’n berg met hoë spitse is Basanberg. Berg met hoë spitse, hoekom kyk jy met afguns na die berg wat God as woning gekies het, daar waar die Here vir altyd sal woon? Met derduisende skitterende strydwaens van God het die Here vanaf Sinaiberg na sy heiligdom toe gekom. Toe U opgegaan het na die hoogte, het U krygsgevangenes weggevoer. Mense het vir U geskenke gegee, selfs dié wat teen U in opstand was. Nou sal die Here God onder ons kom woon. Prys die Here wat ons dag na dag in sy arms dra. Hy is die God van ons verlossing. Sela God is vir ons die God wat verlos! Die oppermagtige Here het beheer oor die dood. Immers, God self verpletter die koppe van sy vyande, die koppe van hulle wat in sonde volhard. Die Here sê: “Ek sal my vyande bring uit Basan; Ek sal hulle bring uit die dieptes van die see. Julle sal hulle bloed van julle voete afwas, en die bloed van julle vyande sal julle honde oplek!”” NLV

Boodskap en betekenis

Die berg Basan word hier gepersonifieer as die spits van die teenstand teen God in die Intog en verowering van die land Kanaän.  Basan was eintlik die naam van die koninkryk van koning Og, ’n Refaïet, wat op ’n massiewe bed van yster geslaap het wat vier meter lank en amper twee meter breed was.  Basan was een van die eerste dele wat Israel op pad die land in verower het (Deut. 3:1-11).  Die spesifieke berg waarna hier verwys word, kan moontlik die imposante berg Hermon wees wat in die streek van Basan geleë is (Deut. 3:8).  Basan word met rykdom en weelde geassosieer, veral vet koeie en sterk bulle, maar ook baie keer gebruik in beskrywings van mense wat nie met God rekening hou nie (Deut. 32:14; Eseg. 39:18; Amos 4:1; Ps. 22:13; Jes. 2:13; Jer. 22:20).  Hier word die berg as jaloers beskrywe oor die feit dat God ’n ander berg, Sion, as sy woonplek uitgekies het. Die beskrywing van God se intrek in die heiligdom word in die NT herinterpreteer met verwysing na Christus se Hemelvaart van waar Hy – anders as in die OT teks – gawes gee vir die mense (Ef. 4:8). Hier ontvang God geskenke selfs van dié mense wat teen Hom in opstand was. In ’n redelike grusame prentjie word God se hulp en bewaring in doodsgevaar geskets deur die kop van sy vyande, die kop van dié wat in hulle sonde volhard, te verpletter (vers 22).  In die midde daarvan is die ervaring van die volk: “Dag na dag dra Hy ons!” (vers 20).  Dit dien as ’n beskrywing van die veiligheid wat God vir die volk in die land gebring het met die Intog en Vestiging in die land Kanaän.  “Against all odds”!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar