Skip to main content

Psalm 37:23-29

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die belydenis van die Psalmis is dat die Here die koers bepaal van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en dat Hy sulke mense ondersteun. Dit is Dawid se persoonlike ervaring en ook sy waarneming van die ervaring van ander gelowiges. Trouens, dit is die getuienis van alle gelowiges deur die eeue.

Bid die Psalm

“Die Here bepaal die rigting van ’n mens met wie se lewe Hy tevrede is. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas. Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ’n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie. Hy leen altyd ruimskoots aan ander, en sy kinders is tot ’n seën. Vermy die kwaad en doen wat goed is, dan sal jy vir altyd woon in die land. Want die Here het die reg lief, en sal sy getroue dienaars nie verlaat nie. Hy sal hulle vir altyd veilig bewaar, maar die goddelose se kinders sal vergaan. Die regverdiges sal die land besit en daar vir altyd woon.” NLV

Boodskap en betekenis

‘n Mens moet die opdrag in die Psalm goed raaksien – vermy die kwaad en doen wat goed is – want, die belofte van groot seën is daaraan gekoppel: voorsiening en veiligheid in God se sorg. Maar, wat ‘n mens net so goed moet raaksien, is dat dit begin by ‘n lewe wat in die regte verhouding met God is, want, sê Dawid, dit is iemand met wie se lewe die Here tevrede is wat Hy op die regte pad begelei. En uit die NT weet ons dat om in die regte verhouding met God te kom, ‘n geskenk van Jesus Christus is, dié Een wat deur geloof ons met God versoen sodat Hy die rigting van ons lewe kan bepaal.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar