Skip to main content

Psalm 103:6-18

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die fokus skuif in die Psalm na wat die Here in die geloofsgemeenskap doen en waarvoor Hy geloof moet word. Die Psalmis gee ’n omvattende beskrywing van wie God is en wat God doen, sy wese en sy werke. Dit verruim nie net ons Godsbegrip nie, maar verdiep ons verwagting van God in sewe inspirerende perspektiewe, met vers 8 wat veral sentraal staan: “Die Here is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde.

Bid die Psalm

“Die Here laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word. Hy het sy optrede aan Moses openbaar en sy dade aan die volk Israel. Die Here is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde. Hy sal nie voortdurend aankla, of vir altyd kwaad wees nie. Hy straf ons nie soos ons sondes verdien nie, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet tog waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is. Die mens se lewensduur is soos gras, soos veldblomme wat welig blom. As die wind daaroor waai, is dit weg, ’n mens sien die plek waar dit was nie meer nie. Maar die liefde van die Here is altyd daar vir hulle wat Hom dien. Sy trou geld vir geslag na geslag, vir dié wat getrou is aan sy verbond en sy gebooie gehoorsaam.” NLV

Boodskap en betekenis

  1. Die Here doen wat reg is en handhaaf die reg – Dit is in die eerste plek van toepassing “vir almal wat verdruk word”, iets waarop Jesus in sy intreepreek in Nasaret klem gelê het (vgl. Luk. 4:18–19).
  2. Die Here openbaar sy weë en sy dade – Hiermee word Eksodus 33–34 in herinnering geroep waar Moses ná die debakel van die goue kalf die Here versoek om “sy weë” aan Hom te openbaar sodat “ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag” (Eks. 33:13).
  3. Die Here is barmhartig, genadig, geduldig, en vol troue liefde – Dié vers word aangehaal uit dieselfde gedeelte in Eksodus waar God dit van Homself sê (Eks. 34:6). Dié eienskappe van God is waarskynlik die korste en mees omvattende beskrywing van sy wese, iets wat ons van Hom moet koester en waarop ons in ons gebede en lofprysing moet fokus.
  4. God is barmhartig – Die Here beskuldig nie vir ewig nie en koester nie vir altyd wraak nie.
  5. God is genadig – Die Here tree nie op teen ons op grond van ons sonde en sondeskuld nie, want sy troue liefde is eksponensieel groter as ons sonde en sondeskuld vir dié wat vir Hom ontsag het (vertikaal beskryf), en verwyder ons oortredinge ligjare van ons af weg (horisontaal beskryf)!
  6. God is geduldig – Die Here ontferm Hom soos ’n vader oor sy kinders vir dié wat vir Hom ontsag het, omdat Hy weet dat ons maar stof is, dat ons soos gras of ’n veldblom gou vergaan. God neem ons inherente beperkinge in ag.
  7. God is vol troue liefde – Die troue liefde van die Here is egter van altyd af en vir ewig oor dié wat vir Hom ontsag het, en sy weldade is vir ons kinders se kinders, dus in opvolgende geslagte. God se ewige bestaan word dus hier as die oplossing vir die probleem van die kortstondigheid van ons eie lewe geteken. God neem ons kinders en dié se kinders in sy sorg. Omdat Hy ewig is, kan Hy doen wat ons nie kan nie. Wat meer kan ’n mens nou eintlik van Hom vra?!

Die enigste reaksie wat daar by ons kán wees op dié beskrywing van God is ontsag en lofprysing.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…