Skip to main content

Psalm 92

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die titel van Psalm 92 val op: ”ʼn Lied vir die Sabbatdag.” In die Joodse tradisie (Mishna) is daar ‘n Psalm vir elke dag van die week voorgeskryf om deur die Leviete tydens die daaglikse brandoffer in die tempel as die “lied van die dag” te sing: Psalm 24 op Sondag; Psalm 48 op Maandag; Psalm 82 op Dinsdag; Psalm 94 op Woensdag; Psalm 81 op Donderdag; Psalm 93 op Vrydag; en dan Psalm 92 op die Sabbatdag. Elkeen van die Psalms het op ‘n aspek van die skeppingsweek gefokus. In Psalm 92 se geval het dit die boodskap gedra dat dit goed is om elke môre God se goedheid en elke aand sy getrouheid aan te kondig, want sy groot dade maak ons bly. Die Psalm kan in drie dele opgedeel word: 1) Vers 1-7 – ‘n Danklied: “Dit is goed om die Here te dank/loof.” 2) Vers 8-12 – ‘n Belydenis: “Alle boosdoeners sal verstrooi word. U maak my sterk soos ’n buffel.” 3) Vers 13-16 – ‘n Verwagting:Maar regverdiges sal blom soos ’n palmboom… Die Here is regverdig.” Weereens gee dié indeling ‘n mens ‘n handige struktuur vir jou eie gebede: dank, belydenis, verwagting. Ons lees dit as ‘n eenheid.

Bid die Psalm

“Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste; om soggens u goedheid aan te kondig, en in die aand u getrouheid, met snaarinstrumente, met die harp en die begeleiding met die lier. U groot dade maak my bly, Here! Ek juig oor u handewerk. Hoe groot is u werke, Here! Hoe diep is u gedagtes! Net ’n onkundige sal dit nie weet nie! Net ’n dwaas sal dit nie verstaan nie! Die goddeloses floreer soos onkruid, en boosdoeners woeker met sukses; tog sal hulle vir goed vernietig word. Maar U is hoog verhewe. U, Here, bestaan vir ewig. Maar u vyande, Here, u vyande sal sekerlik vergaan. Alle boosdoeners sal verstrooi word. U maak my sterk soos ’n buffel. U salf my met vars olie. Ek sal die einde van my vyande sien. Ek sal hoor sonder om te vrees wanneer boosdoeners teen my opstaan. Maar regverdiges sal blom soos ’n palmboom, en welig groei soos ’n seder van die Libanon. Geplant in die Here se huis, groei hulle weelderig in die voorhowe van ons God. Al is hulle oud, sal hulle steeds vrugte dra; hulle is vars en lewenskragtig. Hulle sal sê: “Die Here is regverdig. Hy is my rots. By Hom is daar geen onreg nie.”” NLV

Boodskap en betekenis

Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer. Wie dit nie besef nie, sê die Psalm, is onnosel. Wie dit nie insien nie, het geen insig nie. Sulke mense sal daarom uitgewis word, al lyk dit asof hulle voorspoedig is (onthou Ps. 73!). Die lof en dank lei vanselfsprekend tot ‘n belydenis dat God se koningskap vir ewig is en dat Hy dit sal bewys in die feit dat aan die een kant onreg en dié wat onreg pleeg, God se vyande, uitgewis sal word. Aan die ander kant sal God dit ook bewys dat Hy gelowiges deel sal hê aan die oorwinning oor God se vyande, wat ook die gelowiges se teëstanders is. Vir hulle hoef gelowiges dus nie in vrees te lewe nie. Hulle dreigemente sal tot niks kom nie. Daarom kan ons rus in die verwagting dat God in beheer is. Die Psalm gebruik die twee metafore van die krag van die palmbome sowel as die hoë seders van Libanon om hulle oorlewing en lewenskrag te beskryf. Omdat regverdiges die Here ken, sal hulle selfs in hulle ouderdom nog toeneem in krag, sodat ook dié getuienis sal aankondig dat die Here regverdig is. Hy bly vir ons die onbeweeglike rots.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda