Skip to main content

Psalm 45:9-18

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die tweede deel van die Psalm besing die Koragiete die lof van die koningin wat die koning met haar skoonheid bekoor (vers 9-16).  Let op die beskrywing van sintuiglike plesier: haar klere ruik lekker, daar is vrolike musiek wat haar hart bly maak, sy is versier met goud van Ofir (dit is moeilik om dié plek te identifiseer, maar interessant genoeg is daar ‘n tradisie wat Ofir met Suid-Afrika identifiseer). Sy word aangeraai om haar volledig vir die koning te gee om aan hom te behoort en afskeid te neem van haar volk en familie, iets wat natuurlik nie sonder pyn kon geskied nie, ten spyte van die uitbundige vreugde van die seremonie. Die Psalm sluit af met ’n gebed vir die bevestiging van sy koninkryk tot roem onder die volke vir altyd (vers 17-18).

Bid die Psalm

“U klere is gegeur met mirre, aalwyn en kaneel. Uit paleise verfraai met ivoor, maak snaarinstrumente u bly. Voor u is prinsesse met juwele versier; regs staan die koningin, met Ofirgoud versier. Luister, o dogter, luister wat ek sê. Vergeet van jou mense en jou familie. Jou skoonheid betower die koning; hy is jou heer, hom moet jy eer. Die dogter van Tirus sal kom met geskenke, rykes sal kom om jou guns te wen. Binne wag die bruid in prag getooi, geklee in ’n rok met goud versier. Sy gaan na die koning in haar pragtige kleed. Haar vriendinne, almal jong meisies, begelei haar na u toe. Met vreugde en gejuig word hulle begelei wanneer hulle ingaan in die koning se paleis. U seuns sal regeer in die plek van hulle voorvaders. U sal hulle heersers maak oor die hele wêreld. Ek sal u naam bekendmaak deur die geslagte heen. Daarom sal volke u vir altyd prys.” NLV

Boodskap en betekenis

Ons het reeds gister van die Messiaanse interpretasie kennis geneem soos die Psalm in Hebreërs geïnterpreteer is. Die Psalm is deur die eeue egter ook op verskeie ander betekenisvlakke gebruik. Omdat die lof van die koningin, wat die koning met haar skoonheid bekoor, hier besing word, is die Psalm as “’n Lied van die liefde” gebruik, soos dit in die titel beskryf word. Die Psalm is daarom ingespan by gewone huwelike waar oor die bruid en bruidegom in koninklike terme gesing is. Jy kan dus die inhoud van hierdie Psalm dus ook gebruik as ‘n gebed vir jou eggenoot, of selfs in ‘n gesamentlike gebed. Daar is ook raakpunte tussen hierdie Psalm en Paulus se beskrywing van die verhouding tussen Christus en die kerk (Ef. 5:21-33). Jy kan die Psalm dus ook as ‘n gebed vir die kerk se verhouding met Jesus gebruik.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar