Skip to main content

Psalm 14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 14 en Psalm 53 het basies dieselfde inhoud, met net ’n paar woorde en die opskrifte wat verskil. Die hoofverskil lê in die gebruik van God se naam. Psalm 14 gebruik 4 keer God se persoonsnaam, Jahwe, en Psalm 53 net die algemene naam vir God, Êlôhîm. Die kontras in die Psalm is nie tussen ryk en arm nie, maar tussen goddeloses en regverdiges, hoewel dit wel wil lyk asof die regverdiges hier ook in nood is (hulpeloos) – vers 5. Dis ‘n kontras tussen dwases en wyses, tussen onverstandiges en verstandiges. Tussen mense wat niks van God begryp nie, en dié wat wel iets van God begryp. En let op dat hierdie kontras nie tussen intellektuele dwases en wyses is nie, maar tussen geestelike dwases en wyses. Intellek en verstandelike vermoëns is nie in Dawid se visier nie, wel mense se verhouding met God en begrip vir wat Hy doen, al dan nie.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Net dwase sê vir hulleself: “Daar is geen God nie.” Hulle is korrup en hulle dade is boos. Niemand doen die goeie nie! Die Here kyk neer vanuit die hemel op die hele mensegeslag om te sien of daar één verstandige is, één wat vir God soek. Maar nee! Almal het afgedwaal, almal het versleg. Niemand doen wat goed is nie, nie eens een nie! Sal boosdoeners dan nooit leer nie? Hulle eet my volk soos brood; hulle dink nie daaraan om die Here te dien nie. Angs pak hulle beet, want God is met hulle wat Hom gehoorsaam. Die planne teen die hulpeloses sal verydel word, want die Here sal sy volk beskerm. Mag daar vir Israel redding kom uit Sion! Wanneer die Here sy volk herstel, sal Jakob juig, sal Israel bly wees.” NLV

Boodskap en betekenis

Om dwaas te wees, is nie ‘n beskrywing uit ‘n menslike perspektief nie, maar uit God se perspektief. ‘n Dwaas is iemand wat lewe sonder om na God te luister om van Hom leiding te ontvang. ‘n Wyse is iemand wie se lewe juis draai om die luister na God en die vertroue op die pad waarop Hy sy of haar lewe begelei (vgl. Ps. 1:6). Maar, eweneens is dit ‘n Psalm wat Paulus in die NT gebruik om ons van ons eie sonde te oortuig (veral Ps. 14:1-3 in Rom. 3:10-12). Almal het gesondig, en is skuldig aan die dinge wat hierdie Psalm noem. Ons almal kan net verlossing ervaar in die soendood van die Here Jesus Christus (vgl. Rom. 3:9-31). Gebruik die Psalm om te reflekteer oor jou eie geestelike pelgrimstog met God. Ook ons word deur die Here Jesus Christus van die dwaasheid van ons sonde en opstand teen God gered om in God se teenwoordigheid te groei in wysheid en vreugde.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar