Skip to main content

Psalm 149

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 149 roep die hele geloofsgemeenskap op om God te loof in hulle byeenkomste. Die redes vir die lof lê in God se goedgesindheid aan sy getroue volgelinge veral in die beskerming teen nasies wat hulle probeer verdruk: “want die Here is sy volk goedgesind; Hy vereer verdruktes met oorwinning.” (vers 4). Let op hoe dié beskrywing van God aan die een kant tot lofprysing aanleiding gee in die byeenkomste van die geloofsgemeenskap: nuwe liedere wat gesing word, koordanse op die maat van tamboeryne en liere wat uitgevoer word. Hulle moet oor God se goedgesindheid van die verlede jubel selfs in die nag wanneer hulle gaan slaap. God se goedgesindheid is ‘n eer wat Hy hulle verleen en wat in sy volle konsekwensies beleef en besing moet word. Aan die ander kant gee dié beskrywing van God aanleiding tot ‘n gebed om vergelding, sowel as ‘n gereedheid om op te tree wanneer die Here hulle oproep tot die oorwinning oor hulle vyande in die toekoms. Daar moet dus nie net: “verheerliking van God uit hulle kele” kom nie, maar ook ‘n gereedmaak met ‘n: “tweesnydende swaard in hulle hande” om die Here te volg in sy vergelding oor die nasies, in die straf wat Hy onder die volke sal uitdeel, in die kettings en ysterboeie wat die lot van konings en hooggeplaastes sal wees as God die vonnis oor hulle voltrek: “Dit sal vir al sy getroue volgelinge ‘n glansryke oorwinning wees.” Die Here is dus nie net sy volk goedgesind in terme van sy nabyheid in die verlede nie. Hy belowe ook dat Hy hulle in die toekoms sal vergeld onder die nasies. Hy is magtig om op te tree en dinge reg te stel. Daarvoor moet hulle Hom nie net loof nie, maar gereed wees om Hom na te volg.

Bid die Psalm

“Loof die Here! Sing vir die Here ’n nuwe lied. Sing sy lof in die vergadering van sy getroue dienaars. Laat Israel hom verheug in sy Skepper, laat die inwoners van Sion jubel oor hulle Koning. Laat hulle sy Naam met koordanse loof, begelei deur tamboeryn en harp vir Hom lofliedere sing. Want die Here verbly Hom in sy volk; met sy redding hef Hy die hulpeloses op. Sy troue dienaars juig oor hierdie eer; hulle jubel op hulle beddens. Mag hulle God loof met hulle lippe, met ’n tweesnydende swaard in hulle hande om wraak uit te oefen op die nasies en straf oor die volke, om hulle konings vas te maak met boeie en hulle leiers met ysterkettings, om die oordeel te voltrek wat reeds vasgestel is. Dit is die roem van sy troue dienaars. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Dis duidelik dat die Psalm van ‘n toekomstige oorlog praat wat eintlik alle oorloë tot ‘n einde kan bring, iets wat God se koningskap oor die hele wêreld sal bewerk. Ons sien dié verwagting op verskeie plekke in die Psalms – Psalm 2; Psalm 18; Psalm 47, hoewel dié Psalm ook van die vereniging van die nasies onder God se heerskappy praat; Psalm 75; Psalm 95 (God is immers koning oor die wêreld sowel as in die geloofsgemeenskap); Psalm 97; Psalm 98 (God kom om oor die hele aarde te heers); Psalm 100 (Alles wat leef moet die Here loof) en nog vele meer. Paulus het hierdie gedagtes meer volledig uitgewerk in terme van die eskatologiese verwagting wat ook die geloofsgemeenskap van die NT kan hê dat God vergelding sal bring en sy mense in heerlikheid by Hom sal versamel: “God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn.” (2 Tess. 1:6-8). Maar, dit sluit in ons bedeling nie die bereidheid vir die fisiese swaard in nie, wel die volgende: “mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.” (vgl. verder by 2 Tess. 1). Deel van ons geestelike oorlogvoering in die proses sluit wel die swaard van die Woord in (Ef. 6:10-20), maar kyk ook wat Johannes hieroor skryf in Openb. 18, 19, en 20 oor die voltrekking van God se oordeel wat gelukkig eindig in die visie op die nuwe hemel en aarde wat ‘n heeltemal nuwe bestel bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar