Skip to main content

Psalm 78:13-39

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Asaf beweeg van die raaisel van onbestendigheid na ‘n erkenning dat vals bekerings niks verander nie. In ’n lang relaas van die gebeure in die woestyn (vers 12–32) vertel hy opeenvolgend van God se versorging (vers 12–16) met die wonderbaarlike trek deur die Rooi See, die voortdurende leiding deur ’n wolk bedags en die lig van vuur snags en die gawe van water in die woestyn. Maar in plaas daarvan dat hulle Hom geëer het daarvoor, het hulle in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 17–20), gevra vir vleis en brood na hulle smaak.  Dit het God se toorn teen hulle laat ontbrand “omdat hulle nie in God geglo het nie en nie op sy verlossing vertrou het nie” Daarom het God hulle gestraf (vers 21–32) met te veel brood en vleis.  Maar in hulle gulsigheid, wat eintlik geen perke geken het nie, het God se toorn hulle getref en “Hy het die sterkstes (dit kan ook met vetstes vertaal word) onder hulle om die lewe gebring en die jongmanne van Israel op hulle knieë gedwing”.  Die ergste was dat selfs dié straf hulle nie van gedagte laat verander nie.  Hulle het steeds nie aan sy wonders geglo nie: “sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie” (vers 32). Dit laat die Psalmis diep nadink (vers 33–39) oor die feit dat teenspoed blykbaar nie die gewenste uitwerking het in mense se lewe nie.  Daar is die aanvanklike terugkeer na die Here toe as daar ’n slagting is.  Maar só ’n bekering is te maklik vals.  Al is God genadig en al vergewe Hy, veral omdat Hy weet “dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie” (vers 39), baat dit die mense nie.  Hulle kry dit nie vanself reg om van binne af aan God verbind te bly nie.

Bid die Psalm

“Die see het Hy oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water soos mure laat staan. Bedags het Hy hulle met ’n wolk gelei, en snags met ’n lig van vuur. In die woestyn het Hy rotse gekloof, hulle laat drink asof uit diepwaters. Hy het waterstrome uit die rots laat vloei, die water soos riviere laat stroom. Tog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, en in die woestyn in opstand gekom teen Hom, die Allerhoogste. Met opset het hulle God beproef, en kos geëis na eie smaak. Hulle het God uitgedaag en gesê: “Kan God kos gee in die woestyn? Toe Hy ’n rots geslaan het, het daar water uitgekom en strome het gevloei, maar kan Hy ook brood verskaf en vleis gee vir sy volk?” Toe die Here dit hoor, was Hy baie kwaad. ’n Vuur het teen Jakob ontbrand; sy toorn het teen Israel ontvlam, want hulle het God nie geglo nie, en nie op sy verlossing vertrou nie. Hy het die wolke daarbo beveel, die hemele se deure oopgemaak, Hy het manna op hulle laat reën om te eet, uit die hemel brood vir hulle gegee. Kos van engele het hulle geëet, kos in oorvloed het God gegee. Hy het die oostewind uit die hemel losgelaat, en deur sy groot krag die suidewind laat waai. Hy het vleis oor hulle soos sand laat reën, voëls soos die sand van die seestrand. Hy het dit in hulle kamp laat val, oral rondom hulle tente. Hulle het meer as genoeg geëet. Hy het gegee wat hulle gevra het. Maar hulle honger was nog nie gestil nie. Met die kos nog in hulle mond, het die toorn van God hulle getref. Hy het die sterkste manne neergevel, en die room van Israel neergeslaan. Tog het hulle aanhou sondig, en geweier om in sy wonders te glo. Daarom het Hy hulle dae in nietigheid tot ’n einde laat kom, en hulle jare in onheil. Wanneer God sommige van hulle laat omkom, het hulle weer na sy wil gevra. Dan het hulle berou getoon en ywerig na God toe teruggekom. Hulle het onthou God is hulle rots, en die Allerhoogste hulle verlosser. Maar met die mond het hulle Hom bedrieg; en met die tong vir Hom gelieg. Hulle hart was ontrou aan Hom, sy verbond het hulle nie gehou nie. Tog was Hy genadig en het hulle sondes vergewe en nie hulle almal vernietig nie. Dikwels het Hy sy toorn teruggehou en sy woede nie losgelaat nie. Want Hy het daaraan gedink dat hulle sterflinge is, ’n asempie wat spoedig verdwyn en nooit weer terugkom nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n Psalm wat ‘n mens tot stilstand ruk. Wat van Israel waar was, is baie keer vandag nog steeds waar van mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar aanhou sondig, selfs wanneer God hulle in sy genade nie heeltemal vernietig nie. Trouens, dit kan waar wees van jou eie lewe, wanneer jy self in sonde val en jou verbintenis aan die Here nie vars en lewend hou nie. As dit die geval is, is daar net een oplossing, en dit is om God se genade en vergifnis te soek en dan Hom te gehoorsaam en in sy wil te volhard.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar