Skip to main content

Psalm 42

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is die eerste Psalm van die tweede Psalmboek (42-72). Psalm 42-43 vorm ’n eenheid, soos die geval was met Psalms 9-10. Dit lei ons onder andere af uit die herhaling van dieselfde refrein (Ps. 42:6; 42:12; 43:5) en dat daar nie ’n opskrif vir Psalm 43 is nie. Dit is een van die Psalms van die Koragiete, deel van die stam van Levi en bekend as deurwagte by die heiligdom (1 Kron. 9) sowel as musikante in die tempel (1 Kron. 6). Een van die groot Koragiete was die profeet Samuel. Die Psalm word in die eerste vers ’n maskîl genoem wat die NLV vertaal met die woord “gedig”. In hierdie konteks dui die inhoud op nadenke en refleksie. Psalm 42-43 is dus bedoel vir selfgesprek waar in dieselfde herhalende frase sy fokus driemaal op God fokus: “Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God!”  Die Psalmis is met homself in gesprek om perspektief te gee aan sy ervaring van die (oënskynlike) afwesigheid van God. Dit gee aan die Psalm ’n unieke sélf reflekterende karakter, ’n meditasie oor sy (gebrek aan en verwagting van ’n) Godservaring.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Gedig van die Koragiete. Soos ’n wildsbok smag na water, so smag ek na U, o God. Ek verlang na God, die lewende God. Wanneer kan ek ingaan en weer voor Hom verskyn? My trane is my kos, dag en nag, terwyl teenstanders my aanhoudend tart en sê: “Waar is dié God van jou?” As ek nadink hoe dit voorheen was, is ek ontsteld. Toe het ek geloop saam met die aanbidders en ’n optog gelei na die tempel van God terwyl ek sing en jubel saam met die skare wat feesvier. Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God! Tog is ek nou terneergedruk. Ek onthou hoe, vanaf die Jordaangebied, vanaf die berge van Hermon en die hoogte van Miskar, die rumoer van u watervalle druis en dreun. So het al u strome en golwe ook oor my gegaan. Tog sal die Here bedags weer sy trou betoon. Selfs in die donker nag sing ek sy lied, ’n gebed tot die God van my lewe. Ek sal roep tot God en sê: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek met rouklere loop omdat die vyand my verdruk?” Dis soos ’n diep wond in my binneste wanneer vyande met my spot, wanneer hulle dag na dag vra: “Waar is jou God?” Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Koragiete lei ons met hierdie Psalm om nie net na te dink oor ervarings van voorspoed en vrede nie, maar ook oor die ervarings van teenspoed en onvrede, veral wanneer dit dreig om ons ervaring van God se teenwoordigheid te verberg. Die nadenke sal ons die nodige perspektief gee sodat ons met Psalm 43 kan vorder van die gesprek met onsself na ’n gebed tot God: “Spreek my vry, o God!” Psalm 42 is dus ’n Psalm wat ons woorde gee vir ons nadenke oor ons trane en ontsteltenis – smag, dors, uitstort, neerbuig, hoop –om uiteindelik die verlange na God self te fokus.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar