Skip to main content

Psalm 43

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In Psalm 43 verander die gesprek oor ons negatiewe ervarings na ’n gebed tot God dat Hy tog reg sal laat geskied. Die Koragiete lei ons met Psalm 43 om nie net te bly by die nadenke oor die uitdagings van die lewe nie, maar inderdaad ook te vra vir beskerming en begeleiding.

Bid die Psalm

“Spreek my vry, o God! Verdedig my saak teen ’n goddelose volk. Red my van mense wat vals en boos is. Want U, o God, is my veilige skuilplek. Hoekom het U my dan verstoot? Hoekom moet ek rou omdat vyande my verdruk? Stuur u lig en u waarheid; laat dit my lei. Laat dit my bring na u heilige berg, na die plek waar U woon. Ek sal ingaan na die altaar van God, na God, die bron van vreugde en blydskap. Ek sal U loof met die harp, o God, my God! Hoekom is ek so neerslagtig? Hoekom so verontrus? Ek sal op God vertrou! Ek sal Hom weer prys, Hy is my redder en my God!” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe die gebed nie net is vir uitkoms nie, maar vir die lig en waarheid van God om ‘n leidende rol in ‘n mens se lewe te speel. Dit sal weer vreugde en blydskap verseker in ons lewe. In die versekering dat God sal luister, word die gebed van Psalm 43 dan weer afgesluit met ’n selfgesprek, maar dié keer deur jouself moed in te praat dat God jou nie uiteindelik in die steek sal laat nie. God kan vertrou word, selfs al word die uitkoms nog nie gesien nie. Craigie sê hieroor: “when one turns from the memories and burdens within the mind and boldly addresses to God a plea for deliverance, the first step is taken on the path that leads ultimately to a restoration of the life of praise and to mental and spiritual health.” (Word Biblical Commentary).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar