Skip to main content

Psalm 119:17-24

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie derde gedeelte van die Psalm fokus op die nood wat die Here se “diensknegte” het om in situasies van gevaar aan die woord van die Here getrou te bly. Aan die een kant bid hy God om hom nie in die steek sal laat nie: “wees goed vir u dienskneg”, “maak oop my oë”, “moet u bevele nie vir my verborge hou nie”, en “neem bespotting en minagting van my weg”. Hy het getuienisse nodig van God se sorg en omgee. Hy het insig nodig in wat God se wil vir sy lewe is: “dat ek die wonders in u wet kan raaksien”. Trouens, “My lewe kwyn weg van verlange na u beslissings vir elke geleentheid.” Watter wonderlike woorde wat ook in my die verlange na God se “gevleuelde woorde” vir elke geleentheid aansteek! Maar, hy weet ook dat die verlange na insig in wat God wil aan die ander kant geëggo moet word in ‘n lewe van gehoorsaamheid. God se goedheid is bedoel dat hy kan: “lewe en u woord nakom”. By God se bepalings moet hy hom hou: “selfs al sit leiers en planne beraam teen my.” Die teenstand moet hom nie keer om te bly nadink oor God se voorskrifte en om steeds sy grootste vreugde daarin te vind: “hulle is my raadgewers.”

Bid die Psalm

“Wees goed vir u dienaar sodat ek mag lewe en u woord gehoorsaam. Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie. Al is ek net ’n vreemdeling op aarde, moenie u gebooie van my weghou nie. Ek word voortdurend verteer deur ’n begeerte na u bepalings. U bestraf trotsaards en vervloektes wat afdwaal van u gebooie. Weer smaad en belediging van my, want ek gehoorsaam u waarskuwings. Al sit en praat heersers saam teen my, sal ek u voorskrifte oordink. U waarskuwings is beslis my vreugde; dit gee my goeie raad.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis werk dus met die baie belangrike perspektief dat God se openbaring in wet en woorde, getuienisse en beloftes, voorskrifte en opdragte, insigte en beslissings ons lewe moet vorm. Daarom is dit so absoluut noodsaaklik dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Soos ek so baie in die Bybelskool sê: lees, luister, leef. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Hom prakties te volg, en skryf God ons in sy verhaal met die wêreld in.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar