Skip to main content

Psalm 36

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 36 konfronteer ons met die waarheid dat daar net twee maniere is om te leef. Die goddelose leef in oorgawe aan die wil van sy eie hart; sy opstand teen God kom diep uit sy binneste. Die gelowige daarenteen leef in oorgawe aan die wil van God. Let op hoe Dawid se beskrywing van die gelowige lewenswyse nie in die eerste plek fokus op wat hy of sy vir God doen, of hoe hulle lewe anders is as die goddelose nie. Die fokus is op wie God vir hulle is – die fontein van die lewe; die lig waarin die lig gesien word. Dit is hierdie God by wie hy skuiling soek weg van die invloed van die goddeloses.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Psalm van Dawid, die dienaar van die Here. Die goddelose se opstand kom uit sy hart. Hy het nie ontsag vir God nie. In sy blinde verwaandheid sien hy nie sy sonde om dit te haat nie. Alles wat hy sê, is sondig en vals. Hy is nie verstandig nie en doen nie die goeie nie. Hy beplan kwaad wanneer hy gaan lê. Hy kies ’n pad wat nie goed is nie en verwerp nie die kwaad nie. Here, u goedheid is eindeloos soos die heelal; u trou tot by die wolke. U regverdigheid is soos die hoogste berge, u oordeel soos die diepste waters. U sorg vir mense en diere, Here. Hoe kosbaar is u trou, o God! Die hele mensdom vind skuiling in die skadu van u vleuels. U voed hulle uit die oorvloed van u huis, en laat hulle drink uit strome van vreugde. Want by U is die fontein van die lewe, in u lig sien ons die lig. Laat u goedheid bly by dié wat U erken en u regverdigheid by dié wat opreg is. Moenie dat die hoogmoediges my vertrap nie. Moenie dat die goddeloses my wegdryf nie. Die kwaaddoeners val daar waar hulle is, hulle word neergegooi en kan nooit weer opstaan nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid kan nie uitgepraat raak oor God se trou, sy beskerming, die oorvloed wat Hy gee, die strome van goedheid wat Hy sy mense laat drink nie. God is die bron van die lewe. Deur sy lig lewe ons. Wat Dawid in gebed laat vertoef by die versugting dat hierdie belydenis oor God in die werklikheid van gelowiges se lewe tot sy reg sal kom, en dat hulle nie onder die aanslag van die eiegeregtige goddelose mense platgeslaan sal word nie. Dié lot moet eerder die goddeloses self tref. Hulle invloed moet deurbreek word, sodat hulle nie gelowiges van God se teenwoordigheid wegdryf nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar