Skip to main content

Psalm 33:1-12 

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 33 is een van die min Psalms wat nie ’n opskrif het nie. Soos iemand van dié tipe Psalms sê, dit is weeskind-Psalms! Maar watter spraaksame weeskind! Dit roep al die nasies sowel as die hele wêreld op om God te loof, want Psalm 33 ‘n loflied oor vertroue. Die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde. Dit is sigbaar in die skepping, dit is duidelik deur die geskiedenis. En wat die skepping en die geskiedenis oor God sê, is dat die Here sorg vir dié wat Hom vertrou. Ons lees dit in twee dele: vers 1-12 en vers 13-22.

Bid die Psalm

“Jubel, regverdiges, oor die Here! Dit pas opregtes om Hom te loof. Prys die Here met die lier; met musiek op die tiensnareharp. Sing vir Hom ’n nuwe lied, speel met vaardigheid en jubel. Want die woord van die Here is waarheid, en alles wat Hy doen, staan vas. Hy het regverdigheid en reg lief, en sy troue liefde vul die aarde. Deur die woord van die Here is die hemele geskape; en deur sy woord al die hemelliggame. Hy stel grense vir die see, in die diepwaters versamel Hy hulle. Laat elkeen op die aarde die Here dien. Laat die inwoners van die wêreld ontsag hê vir Hom. Want Hy het gepraat, en dit was daar; Hy het beveel, en dit was so. Die Here verydel die beraadslaging van die nasies en dwarsboom die planne van mense. Maar die Here se planne staan vir altyd vas; sy beplanning geld vir geslag na geslag. Geseënd is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Homself as sy eiendom gekies het.” NLV

Boodskap en betekenis

In hierdie eerste deel van die Psalm moedig Dawid ons aan om gereeld ’n uitbundige loflied te sing tot God se eer. Om Hom te loof vir sy Woord (vers 4-9) en sy planne (vers 10-12). God doen wat Hy sê. Die hele skepping getuig daarvan. Ons moet in ontsag vir Hom lewe. Sy planne is onbreekbaar vas. Hy verydel die planne van die nasies.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar