Skip to main content

Psalm 89:1-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die laaste Psalm in die 3de Psalmboek, Psalm 89,  begin met die wonderlike uitkoms wat God gee, wat eintlik ’n noodsaaklike boodskap is ná die donkerte van Psalm 88. Tog vra die Psalm ook of ’n mens altyd kan staatmaak daarop, veral wanneer dit lyk asof God in sy toorn sy verbond nie in ag neem nie (vers 39 en verder). ’n Situasie waarmee menige van ons kan identifiseer. Die Psalm word toegeskryf aan Etan, soos Heman, ‘n Esragiet.  Hy was ook een van vier bekende wyses in Israel wie se wysheid egter deur Salomo oortref is (1 Kon. 4:31). Etan en Heman was nakomelinge van Serag uit die stam van Juda (1 Kron. 2:6), vandaar die naam Esragiet (nakomeling van Serag).  Hy moet onderskei word van die ander Etan, wat ook Jedutan genoem word, en saam met Asaf en Heman in die tyd van Dawid as tempelsangers opgetree het (1 Kron. 6:33). Ons bid dit in drie dele.

Bid die Psalm

“’n Gedig van Etan die Esragiet. Ek wil altyd sing van die goedheid van die Here. Ek wil, geslag na geslag, sy getrouheid bekendmaak. Ek het gesê: “U troue liefde sal vir altyd duur. U getrouheid is so standvastig soos die hemel.” U het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my uitverkorene. Ek het ’n eed afgelê vir Dawid, my dienaar: ‘Ek sal jou nageslag vir altyd as konings vestig, en jou troon bou van geslag tot geslag.’” Sela Here, die hemel prys u wondermag; die hemelse wesens prys u trou. Want wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelse wesens is soos die Here? In die hemelse vergadering is daar groot ontsag vir God. Hy is meer ontsagwekkend as hulle wat Hom omring. Here, God die Almagtige, wie is magtig soos U, Here? U is omring deur u getrouheid. U heers oor die bruisende oseane. As die golwe styg, laat U dit bedaar. U het vir Rahab vernietig, met u sterke arm u vyande verdryf. Aan U behoort die hemel, die aarde is u besitting, die wêreld en alles daarin – dit alles het U gemaak. U het noord en suid gemaak, Tabor en Hermon prys u Naam. U arm is toegerus met mag, u hand is sterk, u regterhand is omhoog! Geregtigheid en reg is die fondament van u troon. Onfeilbare trou en waarheid is tot u diens. Geseënd is hulle wat U met vreugde dien, wat lewe in die lig van u teenwoordigheid, Here. Hulle juig die hele dag oor u Naam, is verheug oor u regverdigheid. U is hulle kragtige roem. Deur u goedheid is ons sterk. Die Here is ons beskermer, die Heilige van Israel is ons koning.” NLV

Boodskap en betekenis

God word in die eerste deel van die Psalm geloof vir sy liefde en trou wat vir altyd standhou beide in die hemel as op die aarde (vgl. die Ons Vader gebed oor God se wil).  Dit het Hy bewys: 1) met sy verbond met en belofte aan Dawid: “Ek sal jou nageslag vir altyd as konings vestig, en jou troon bou van geslag tot geslag.”; 2) met die ereposisie wat die Here self  beklee in die hemel onder die hemelse wesens (seuns van God in Hebreeus) in die hemelse vergadering; 3) met sy magsposisie in terme van die skepping waarin God orde in die chaos op die aarde gebring het – alles behoort aan Hom, want Hy het dit gemaak; 4) met die ereposisie wat Hy beklee onder sy mense wat juig tot sy eer omdat hulle sy guns en regverdigheid geniet, ’n goedheid wat op spesiale wyse aan die koning bewys is: “Die Here is ons beskermer, die Heilige van Israel is ons koning.” Dit is ‘n lofprysing wat ons ook aan God kan bring. Hy kan vertrou word, want Hy is “omring deur sy getrouheid”.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar