Skip to main content

Psalm 26:6-12 

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid belowe in die tweede deel van die Psalm om nie op te hou om God te vertrou nie. Hy sal met integriteit lewe daarbuite – deur te sorg dat sy hande skoon is (vgl. Jes. 1:16-20 se klem op God wat ons reinig met bekering) – en in die geloofsgemeenskap – deur te draai na die altaar toe (vgl. Hebr. 10:19-22 wat ons aanmoedig om met vrymoedigheid saam as geloofsgemeenskap tot God te nader). Dit gaan dus vir Dawid in sy lewe daaroor om te alle tye in lyn met God se waardes en riglyne op te tree en te alle tye in sy teenwoordigheid te lewe. Wat vir my ongelooflik diepsinnig is, is dat hy homself weliswaar onwrikbaar verbind aan ‘n lewe met integriteit (vers 1, 11), maar tog ten diepste, en in die laaste instansie, staatmaak op God se redding en genade in die proses (vers 11). Dan weet hy sal sy pad vorentoe gelyk wees en sal hy die Here kan bly prys in die samekoms van die gemeente.

Bid die Psalm

“Ek was my hande as teken van my onskuld en verskyn voor u altaar, Here, terwyl ek ’n danklied sing en vertel van al u wonders. Here, u woonplek het ek lief, die plek waar u heerlikheid woon. Moenie my saam met sondaars wegvee nie. Moenie dat ek saam met moordenaars omkom nie. Hulle hande is gevul met bose planne, hulle regterhande vol omkoopgeld. Maar ek lewe in opregtheid; red my en wees my genadig. My voete staan vas op gelyke grond. Daarom prys ek die Here in die vergadering.” NLV

Boodskap en betekenis

Die keuse om God te dien, vereis van ons om in elke dimensie van ons publieke en private lewe met integriteit te lewe. Dit is iets waarvoor ons verantwoordelik is. In elke keuse wat ons maak. Dit is egter ten diepste ook iets wat God vir ons gee. Waarvoor ons Hom moet vertrou.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar