Skip to main content

Psalm 111

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 111 en 112 is akrostiese Psalms. Dit beteken elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Dit gee 22 reëls vir elke letter van die alfabet. Dit is ook ‘n Hallelujalied soos Psalm 112 en 113 dit ook is. Psalm 111 en 112 kom baie ooreen in inhoud met die fokus op bv. regverdigheid, genade, barmhartigheid, en voorsienigheid. In Psalm 111 word dit as God se karakter en werk beskryf. In Psalm 112 word dit as die gelowige se karakter en werk beskryf. In Psalm 111 sê die Psalmis dat God self sal sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie. In Psalm 112 word dit van die gelowige gesê: “‘n Regverdige bly vir altyd in die herinnering.” In Psalm 111 is dit God wat voorsien. In Psalm 112 is dit die “goedhartige” wat uitleen en al sy sake reg bestuur. Die twee Psalms is dus keersye van mekaar. Wat van God in die een gesê word, word van die gelowiges in die ander gesê. Omdat die twee Psalms maklik gememoriseer kon word vanweë die alfabetiese begin, het dit dus as ‘n soort kortbegrip gefunksioneer om kinders nie net die alfabet te leer nie, maar die “ABC” van wie God is en wat Hy doen: “Groots is die werke van die Here, ‘n bron van nadenke vir almal wat vreugde daarin vind.” Die volgende Psalm het hulle die “ABC” van wie gelowiges is en hoe hulle lewe, geleer. Elke opeenvolgende reël van die Psalm skets ‘n aspek van God se werk in die lewe van die volk, soms in kombinasie met ‘n ander reël. Op grond van die beklemtoning van sy werk in vers 2 en 7 kan die Psalm in twee dele gedeel word: God se werk is Groots (Ps. 111:2-6) en, God se werk is Betroubaar (Ps. 111:7-10).

Bid die Psalm

“Prys die Here! Met my hele hart wil ek die Here loof in die vergadering van die gemeente, in die byeenkoms van die opregtes. Die dade van die Here is groot! Almal wat daaroor bly is, dink hieroor na. Heerlik en vol majesteit is sy werke. Sy geregtigheid hou vir altyd stand. Sy wonders sal altyd onthou word. Genadig en barmhartig is ons Here! Hy voed hulle wat Hom dien; Hy onthou altyd sy verbond. Hy het sy kragtige dade aan sy volk getoon deur die land van ander nasies aan hulle te gee. Alles wat Hy doen, is waar en reg, en al sy voorskrifte is betroubaar. Hulle is vir altyd geldig, en met trou en opregtheid moet dit gehoorsaam word. Hy het ’n losprys vir sy volk betaal, en sy verbond vir altyd gewaarborg. Heilig en ontsagwekkend is sy Naam! Eerbied vir die Here is die begin van wysheid. Dié wat sy voorskrifte navolg, het goeie insig. Hy sal vir altyd geprys word!” NLV

Boodskap en betekenis

Die eerste deel van die Psalm fokus op die werke van die Here in terme van sy voorsiening wat uitgemond het in die gawe van die Beloofde land. In die proses het die volk sy magtige dade ervaar, sy genade en barmhartigheid, en dat Hy sy verbond met hulle in stand gehou het. Daarom prys hulle die Here met hulle hele hart in die byeenkomste van die geloofsgemeenskap, terwyl hulle bely dat die Here self sal sorg dat sy majestueuse en luisterryke dade nie vergeet sal word nie. Onthou ook dat dié Psalm ‘n besondere betekenis vir die teruggekeerde ballinge in Jerusalem gehad het, waarin hulle eintlik op ‘n dubbele manier God se voorsiening kon vier. Hulle voorouers het die eerste Intog in Kanaän beleef, en hulle self die tweede een. Vers 4 word in Jakobus 5:11 aangehaal en met die verhaal van Job se volharding verbind. “Kyk, ons beskou hulle wat volhard as geseënd. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (BDV). Die tweede deel van die Psalm fokus op die werke van die Here in terme van die betroubaarheid van wat Hy doen, sowel as in sy opdragte. Die klem is op die feit dat ‘n mens nie net kan staatmaak op die werk van die Here, dat Hy genadig en barmhartig in sy voorsiening sal wees nie, maar dat jy ook kan staatmaak daarop dat dit regverdig en betroubaar sal wees. ‘n Mens kan op God staatmaak dat Hy sal optree. En jy kan staatmaak daarop dat dit die regte optrede sal wees. Dit is vir ewig so, sê die Psalm. Almal wat dus sy opdragte uitvoer, het goeie insig. God is ook betroubaar in die wyse waarop Hy ons begelei deur sy opdragte en voorskrifte. Daarom is die wyse manier van lewe: Leef met ontsag vir God se opdragte.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar