Skip to main content

Psalm 69:6-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dié tweede deel van die Psalm beskryf twee ervarings van ’n gelowige wat ernstig is om God te dien.  Aan die een kant is daar die groeiende bewussyn van sonde – “ek kan my skuld nie vir U wegsteek nie” – en die effek wat dit op die ander lede van die geloofsgemeenskap het.  “Moenie dat hulle wat U dien deur my verneder word nie.” Aan die ander kant is daar die groeiende bewussyn van die teenstand van mense wat eintlik vir God wil bykom.  “’n Ywer vir u huis brand in my, die beledigings teen U gemik, tref ook vir my.”  Selfs in die gemeenskap word praatjies oor hom gemaak.  Dawid bid dat God in Sy groot en wonderlike liefde en groot barmhartigheid sal antwoord en sy lot sal verander. Net God kan help.  Mense het nie meegevoel en deernis nie.  Hulle aanbod is gif en asyn vir sy honger en dors.

Bid die Psalm

“O God, U weet hoe dwaas ek is; ek kan my skuld nie vir U wegsteek nie. Moenie dat hulle wat op U vertrou, deur my beskaam word nie, oppermagtige Here, die Almagtige. Moenie dat hulle wat U dien deur my verneder word nie, o God van Israel. Om u ontwil moet ek veragting verduur, is ek tot skande gemaak. Vir my broers het ek ’n onbekende geword, ’n vreemdeling vir die seuns van my moeder. ’n Ywer vir u huis brand in my, die beledigings teen U gemik, tref ook vir my. Wanneer ek huil terwyl ek vas, moet ek hulle beledigings verduur. Wanneer ek rouklere aantrek, skeer hulle met my die gek. Dié wat sit in die stadspoort skinder van my, en die dronkaards maak liedjies oor my. Wat my betref, ek bid tot U, Here; antwoord my op u bestemde tyd, o God. In die grootheid van u troue liefde, antwoord my met u troue redding! Trek my op uit die modder sodat ek nie dieper wegsink nie! Red my van my haters en uit die diep waters. Moenie dat die watervloed my oorweldig, of die diep waters my insluk, of die graf bokant my toegaan nie. Antwoord my, Here, want u genade is goed; verhoor my in u groot barmhartigheid. Moenie u gesig vir u dienaar wegdraai nie; antwoord my gou, want ek is in nood! Kom na my toe en red my lewe. Bevry my tog van al my vyande.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat die teenstand kom van mense in die gemeenskap sowel as van sy familie. Daarby word hy beledig en verkleineer omdat hy hom met God en sy huis assosieer – die beledigings teen God tref dus ook vir hom. Iets wat ons in die lewe van Jesus gedemonstreer sien, soos die Psalm in Johannes aangehaal word”:

Ps. 69:10 Joh. 2:17
10Omdat ek u huis liefhet,

moet ek ly;

die beledigings teen U

het ook vir my getref.

13Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.”

17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar