Skip to main content

Psalm 22:1-12

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is moeilik om dié Psalm te lees, sonder om die lydenspad en kruisiging van Jesus so duidelik hierin te hoor. En natuurlik is dit ‘n Messiaanse Psalm wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar dan vergeet ons te maklik dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het. Psalm 22 gaan in die eerste plek oor die feit dat God die gebed van die hulpeloses nie verontagsaam nie, soos van die vorige Psalms in hierdie reeks rondom die tempel al bevestig het. Psalm 22 bid daarom nie net om verlossing nie, maar loof God vir die verlossing wat Hy reeds gebring het, soos Dawid dit ook in Psalm 21 al gedoen het. In die tweede plek gaan dit ook oor die lyding waardeur Jesus vir ons verlossing bewerk het. Ons lees dit in drie dele.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. My God, my God! Waarom het U my verlaat? Waarom bly U so ver wanneer ek roep om hulp, so ver wanneer ek tot U sug? Elke dag roep ek na U, my God, maar U antwoord nie; ook elke nag roep ek, maar daar is geen rus vir my nie. Tog is U die Heilige wat woon waar Israel U prys. Ons voorouers het op U vertrou, hulle het U vertrou, en U het hulle gered. Tot U het hulle geroep, en hulle is verlos. Hulle het op U vertrou, en was nooit verleë nie. Maar ek is net ’n wurm, en nie ’n man nie; ek word bespot deur die mensdom, verag deur almal om my. Elkeen wat my sien, spot met my. Hulle trek vir my gesigte, skud die kop en sê: “Vertrou op die Here; laat Hý hom dan red! Laat die Here hom verlos as Hy hom dan so liefhet!” Maar U het my die lewenslig laat sien, my as suigeling op U laat vertrou. Vanaf geboorte is ek van U afhanklik. Vanaf die begin van my lewe was U my God. Moenie ver van my af bly nie, want ellende kom en daar is geen helper nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm begin met die diep en donker klag van Dawid dat hy deur God self verlaat voel (vers 2-3). Hy kan dit nie klein kry dat hy bid, en daar is geen antwoord nie, selfs nie as hy dag en nag daarmee volhard nie. Dié klag word opgevolg deur ’n belydenis van vertroue, gebou op sy ervarings van die verlede, dat God teenwoordig is waar sy lof besing word, en dat Hy Hom op soveel wyses al in die verlede bewys het vir die verbondsvolk (vers 4-6). Daarna beskryf Dawid sy lyding, nie net in sy eie ervaring van minderwaardigheid nie: “ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie”, maar ook in terme van hoe mense hom laat voel met hulle spot en venyn (vers 7-9). Maar sy diepste krisis is eintlik dat sy verhouding met God só anders was in die verlede. Van sy geboorte af was hy in God se sorg (vers 10-11) en hy kan nie anders as om sy lot te bekla voor dié God en om hulp te smeek nie (vers 12). ‘n Mens hoor natuurlik ook duidelik in Psalm 22 die lyding van die kruispad van Jesus. Dit is immers ‘n onvergelyklike Messiaanse Psalm wat in die detail van Jesus se lewe vervul is (vgl. die kreet om verlating van Ps. 18:2 in Jesus se kruiswoord in Matt. 27:46; die spottery oor God se sorg van Ps. 18:9 in die woorde van die priesterhoofde in Matt. 27:43). Maar onthou dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het. Daarom ook ‘n lied vir jou.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.