Skip to main content

Psalm 18:47-51

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die sesde en laaste deel van Psalm 18 trek die vanselfsprekende gevolgtrekking uit die voorafgaande. Die Here leef! Hy bevry vir Dawid van die man van geweld. Dit is iets wat alle gelowiges moet hoor. Sodat hulle moed kan skep in hulle eie konflikte. Dawid is so oorweldig deur die uitkoms wat God gee, dat hy sy lofbetuiging uitbrei om die lewende Here voor die nasies te verheerlik, wat in ’n sekere sin, eintlik altyd die doel van die wonderwerke is: om alle mense op te roep tot lof aan hulle Skepper. Hy is immers die koning van die nasies.

Bid die Psalm

“Die Here leef! Ek prys my rots! Ek loof God, rots van my redding, God wat wraak neem namens my, wat volke aan my onderwerp. Hy red my van my vyande. Buite bereik van teenstanders verhef U my; U verlos my van geweldenaars. Daarom, Here, sal ek U prys voor die nasies. Tot eer van u Naam sal ek ’n loflied sing! U gee groot oorwinnings aan u koning; aan u gesalfde is U getrou, aan Dawid en sy nageslag vir altyd!” NLV

Boodskap en betekenis

Dink weer na oor die boodskap van die hele Psalm en gebruik die Psalm in sy geheel vir jou gebede in aanvegting in die toekoms. Dawid het ervaar dat hy sy nood na die Here toe kan neem. Die Here luister. Trouens, toe hy benoud was, het die Here nie net gehoor nie, maar “hemel en aarde beweeg” om hom te help, sê Dawid. Selfs vir hom geleer om oorlog te maak. Maar, in dit alles was dit die Here self wat die oorwinning gegee het. Neem dit as ’n belofte ook vir jou stryd in die lewe. Met God kan ook jy ’n bende stormloop. Met Hom spring jy oor ’n muur! Sy goedheid maak jou groot!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar