Skip to main content

Psalm 101

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 101 besing God se troue liefde en sy geregtigheid wat as standaard dien vir die koning se persoonlike lewe, sowel as vir dié wat diens doen in die amptenary. Daardeur sal die ganse lewe integriteit uitstraal. Dawid mik dus met alles in hom na ’n lewe van integriteit. Hoekom? Want God se troue liefde en geregtigheid het die hom só geïnspireer, dat hy hom volledig wil toespits op ’n onberispelike lewenswyse. Hy wil daarom met ’n opregte hart leef in sy paleis. Dit sluit in dat hy slegte dinge nie voor sy oë verdra nie, dat hy ’n weersin het in die pleeg van wandade, sodat dit nie ’n houvas op hom kry nie: “dit mag nie aan my kleef nie.” (vers 3 letterlik vertaal). Maar, sy persoonlike integriteit moet aangevul word met publieke keuses. Daarom neem die Psalmis hom voor om arrogante hoogmoediges nie te verdra nie, en op die uitkyk te bly vir amptenare wat betroubaar is, sodat hulle die koning in sy innerlike verknogtheid aan integriteit kan ondersteun. Allen praat van “circles of integrity” wat Dawid doelbewus rondom skep (Word kommentaar reeks). Bedrog en leuens sal dus nooit deug in die paleis nie, en die koning onderneem om goddelose mense op ’n daaglikse basis uit te sorteer in die stad van die Here. Hoe waar en noodsaaklik is dit nie ook in ons land in die publieke sfeer nie!

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Ek wil sing van u trou en geregtigheid. Here, ek wil U met liedere prys. Ek wil my daaraan toewy om opreg te lewe, maar wanneer kom U na my toe? In my huis wil ek lewe met ’n opregte hart. Ek steur my nie aan bose dinge nie. Ek haat alle valsheid; dit sal nie op my ’n houvas kry nie. Ek sal verkeerde gedagtes verwerp en wegbly van alles wat boos is. Iemand wat sy naaste beskinder, sal ek tot swye bring. Iemand met ’n trotse hart, vol eiewaan, sal ek nie duld nie. Ek let op die getroues in die land, en laat hulle by my woon. Net dié wat opreg lewe, net húlle sal my dien. Bedrieërs sal nie in my huis woon nie, en leuenaars sal nie by my bly nie. Soggens sal ek regspreek, die goddeloses in die land uitroei, en al die bewerkers van kwaad afsny van die stad van die Here.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 101 fokus op die noodsaak van integriteit in alle sfere van die lewe. Die koning wy hom op persoonlike vlak toe aan ’n onberispelike lewe, verbind hom daartoe om dit op alle sosiale vlakke na te streef, en hom te omring in die publieke lewe met mense van integriteit, “circles of integrity.” Maar, let op in vers 2 dat Dawid vra: “Wanneer kom U na my toe?” Daarmee verwys hy na sy behoefte en verwagting dat God sy teenwoordigheid by hom sal laat geld soos Hy belowe het in die wet dat Hy na elkeen wat Hom aanroep, sal kom en hulle sal seën (Eks. 20:24). Jesus het nog verder gegaan en aan sy dissipels die belofte gegee dat: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Joh. 14:23) ‘n Belofte wat ons nog steeds kan aangryp waar ons ons harte op God, en op Hom alleen, rig.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar